Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 6: Hy kan ons oorvloedig laat leef in die storm - 10 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Twee dae nadat Norma Jean Bauerschmidt, oftewel “Miss Norma” van Michigan in Amerika se man, Leo gesterf het, het sy die skoknuus gekry dat ’n kankergewas by haar gediagnoseer is. Haar seun en skoondogter was saam met haar in die dokter se spreekkamer. Hy het chirurgie, bestraling en chemoterapie voorgestel. Op die vraag wat sy daarvan dink, het Miss Norma geantwoord: “Dokter, ek is 90 jaar oud. Al wat ek wil doen, is om in die pad te val en die wêreld te sien.” Dit is presies wat sy, haar seun en skoondogter met hul kampeerwa gedoen het.

Die afgelope jaar het hulle 21,000 km afgelê en op 75 verskillende plekke in 32 Amerikaanse state oornag. Gedurende hierdie tyd het hulle verskeie ongelooflike ervarings vir die eerste keer beleef – insluitende ’n warm lugballon vlug, oesters eet, ukulele speel, perdry en selfs walvisse sien en ’n laventelplaas (haar gunsteling blom) besoek. Hul avonture, getiteld “Driving Miss Norma” is aanlyn deur ’n halfmiljoen mense gevolg wat deur haar blymoedige gees, te midde van kwynende gesondheid, geïnspireer is. Een van die gunsteling foto’s van die piepklein Miss Norma, is waar sy in ’n rooi sportmotor sit met Ringo, hul geliefde poedel, reg langs haar. Wat nie sigbaar op die foto was nie, is die suurstoftenk by haar voete aangesien sy toe reeds baie swak was. Dit was een van haar laaste avonture.

Miss Norma is op 30 September vanjaar oorlede en verlede Vrydag het ’n klomp mense haar vol lewe by Friday-hawe in die staat Washington gevier.

In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” In Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” En in Johannes 10:10 sê Jesus: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

God kan ons help om blymoedig, ’n lewe van oorvloed te beleef, ten spyte van storms in ons lewens. Ons moet egter doelbewus kies om weg van die storm te kyk en op die Een te fokus wat die storm met een woord kan stilmaak.

Op die vraag aan Miss Norma wat haar gunsteling bestemming tot dusvêr was, het sy elke keer geantwoord: “Net hier.” Sy was dankbaar vir elke dag en elke ervaring. Juis hierom het sy tot aan die einde ’n oorvloedige lewe gelei. Kom ons volg haar voorbeeld en leef dankbaar. Só kan ons ook ’n lewe in oorvloed smaak al is daar soms storms in ons lewens. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U vir ons ’n oorvloedige lewe wil gee. Help my om nie teen die storms in my lewe vas te kyk nie, maar om eerder dankbaar te leef vir wat ek wel nog het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na die foto van Miss Norma by www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook se Stories van Hoop bladsy. Dag 5 (Vrydag se dagstukkie) se videogreep is ook daar gelaai.

Opdrag vir die dag: Trek ’n pen en papier nader as ’n storm weer in jou lewe woed en skryf minstens drie dinge neer waarvoor jy steeds dankbaar kan wees. Dank God dan daarvoor. Dit mag dalk net jou perspektief baie vinnig van jou situasie verander.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Dag 7: Hy kan ons hoor as ons bid - 11 Oktober 2016 Prev Next article: DAG 5: HY KAN ONS VERRAS MET GOEIE DINGE - 7 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.