DAG 5: HY KAN ONS VERRAS MET GOEIE DINGE - 7 Oktober 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
In aanloop tot September se Gospel Skouspel glansgeleentheid in Kaapstad het Tygerberg 104FM-luisteraars die geleentheid gehad om hul naam en werksadres na die ateljee se SMS-lyn te stuur om in aanmerking vir kaartjies te kom. Uit die hordes SMS’e is drie wenners getrek wat ons elk by hul werksplek verras is.
Ná afloop van ons oggendprogram by Tygerberg 104FM, het ek en my kollega, Anton Brink, een van die luisteraar gaan verras. Ons het die man laat roep. Hy het na die ontvangs gestap sonder om te weet wie op hom wag. (Kyk gerus na sy reaksie op die video-skakel onderaan die stukkie)
Toe die man besef wie ons is en waarom ons daar is, was hy totaal oorbluf. Hy moes later trane wegvee. Hy, sy vrou en twee dogtertjies wou baie graag die glansgeleentheid bywoon. Al werk hy ses dae ’n week, het dit egter nie in hul begroting ingepas nie. In sy stiltetyd het hy voor God gaan staan en Hom gevra om dit vir hulle moontlik te maak. God het. Hy het afgesluit met die volgende: “Net soos ek vroeër voor God gaan staan het, sal ek dit weer doen. Dié keer om vir Hom dankie te sê.”
In Matteus 7:7-8 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Ook in Jakobus 4:2b lees ons: “. . .julle het nie, omdat julle nie bid nie” (1953-hersiening).
Ons maak soms die fout om te voel dat ons God nie met “onbelangrike” dinge wil opsaal nie. Hy begeer egter ’n verhouding met ons elkeen. Vir Hom is daar niks lekkerder as wanneer Hy sien dat ons selfs die “onbelangrike” dinge met Hom bespreek omdat dit vir ons belangrik is.
Die luisteraar se geloof in God om iets “onbelangrik” met Hom te bespreek omdat dit vir hom belangrik is, het veroorsaak dat God Hom kon kom verras het. Kom ons waag ’n slag met die wete dat God goeie dinge vir ons kan en wil gee. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U betrokke is in die detail van my lewe. Dankie ook dat ek selfs “onbelangrike” dinge met U kan bespreek wat vir my “belangrik” is. Vandag bring ek (noem spesifiek jou behoefte of begeerte) na U toe. Dankie, dat ek dit by U kan laat omdat ek weet dat U weet of so iets vir my sal goed wees of nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Opdrag vir die dag: Waag ’n kans en gesels gerus vir ’n slag oor die “onbelangrike” dinge wat vir jou belangrik is in hierdie stadium. Die huis, motor, werksgeleentheid, nuwe paar tekkies, spesiale bottel parfuum. God ken in elk geval jou hartsbegeertes.
Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.