Dag 10: Hy wil ons fondasie sterk bou - 14 Oktober 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Tydens die Olimpiese Spele vanjaar het die wêreld verstom gestaan oor die gimnas, Simoné Biles se vermoë. Ná jare se oefening was sy en ’n klomp ander gimnaste in top vorm. Hul vermoëns het ’n klomp kinders met sterre in die oë gelaat met die gedagte om in hul voetspore te volg. My 3-jarige dogtertjie is een van hierdie kinders.
Na weke se gesmeek het ek en my dogtertjie eindelik die week by haar eerste gimnastiekles opgedaag. Die ma langs my, wie se 5-jarige dogtertjie ook vir die eerste keer daar was, het my vertel dat haar kind so opgewonde oor die gimnastiek is dat sy selfs haar ballet opgegee het. Ek kon die afwagting op die kind se gesig sien.
Tydens die klassie is die kindertjies is drie groepe opgedeel waartydens hulle om die beurt op die balk moes loop, bollemakiesies moes slaan en ook op die springmat spring en dan op die mat land. Alles is duidelik aktiwiteite om die fondasie te lê waarop hulle as toekomstige gimnaste kan voortbou.
Deur die loop van die klas het die 5-jarige dogtertjie egter met ’n lang lip en duidelik baie ongelukkig aangestap gekom na waar ek en haar ma gesit en wag het. Op die vraag wat fout is, het sy in trane uitgebars en deur die snikke gesê: “Nee mamma, hierdie is nie gimnastiek nie. Ek wil gimnastiek doen soos die mense op die TV.” Sy het ook die Olimpiese gimnaste dopgehou en geglo dat sy tydens haar eerste les soos hulle sou kon presteer.
Soms het ons ook hierdie ingesteldheid wanneer ons oor sake bid. Ons bid met ’n bepaalde verwagting. Wanneer die antwoord anders lyk as die verwagting, raak ons ongelukkig. Ons bars selfs uit in trane en vergeet dat God eers ’n fondasie by ons wil lê om te verseker dat ons karakter sterk genoeg is vir die deurbraak.
In Sagaria 4:10 lees ons: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” Ook in Lukas 16:10 lees ons: “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.” Wanneer ons betroubaar bly in die klein dingetjies kan God ons verhef.
Waaroor bid jy vandag? Jou eie besigheid, ’n bepaalde werksgeleentheid, ’n huis van jou eie, ’n huweliksmaat, ’n kindjie? God gebruik soms ongemaklike situasies om ons karakter en fondasie te vorm. Kom ons bly getrou en “stap op die balk, slaan bollemakiesies en spring op die springmat” met alles binne ons terwyl ons ons geloof en vertroue in God plaas dat Hy vir ons deurbrake kan bewerkstellig. Die Olimpiese Spele is op pad, maar ons fondasie moet sterk genoeg wees as ons ooit daar wil uitkom. Sterkte.
Vader God, dankie dat U my lewe in U hande hou. Help my asseblief om in elke fase van my lewe getrou te bly met die wete dat U my voorberei en gereed kry vir die volgende fase. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Simone Biles, die gimnas in aksie:
- Sien foto van Simone Biles by www.benescke.co.za
Opdrag vir die dag: Waaroor bid jy vandag? Kom ons vra spesifiek vir God om ons te help om geduldig en getrou te bly in die klein, “skynbaar onbelangrike” dinge. Hy ken die tyd van ons elkeen se deurbraak.
Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na