Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 11: God sien alles en Hy beloon dit - 17 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Rondom 48 uur voor Keizhia, ’n stêrleerder in haar skool en ook een van die behoeftige matrieks wat ons met ons jaarlikse Matriekafskeidprojek by Tygerberg 104FM geïdentifiseer het, het die weldoener weens uitdagings kop uitgetrek. Dit was ’n probleem.

Ons het daarin geslaag om ander weldoeners aan boort te kry om die hare, grimering en naels te doen. Ook het iemand hulle spogmotor beskikbaar gestel wat Keizhia na die geleentheid sou vervoer. Al wat ons gekort het, is ’n rok en skoene.

Dít is waar Yolandi, ’n luisteraar, ingekom het. Sy het haar dogter, wat verlede jaar in matriek was, se uitrusting vir ons geleen. Die rok en skoene was nommerpas. Yolandi het verder gegaan en haar huis oopgestel vir die jong matriek om foto’s daar te gaan neem voordat sy na die matriekafskeid vervoer is. Dit was regtig spesiaal.

Eers ’n paar dae later het ek iets gehoor wat my veral geïnspireer het. Yolandi is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Met haar behandeling moet sy gereeld haar bloed laat toets. Die Donderdag van die matriekafskeid moes sy dringend in die hospitaal opgeneem word aangesien die dokters vir bloedklonte gevrees het. Alhoewel sy op pad was hospitaal toe, het Yolandi besluit om eers die matriek klaar te help voordat sy die aand hospitaal toe is. Die voorspelling was dat sy daardie naweek in die hospitaal sou moes oorbly. Dit was baie sleg vir haar en haar drie kinders by die huis.

’n Dag ná die matriekafskeid het die dokter ’n draai gemaak en na die nuwe bloeduitslae gekyk. Dié keer was hy verstom, want teen alle verwagtinge het die telling oornag genormaliseer. Sy kon daardie naweek by die huis spandeer.

Dié gebeurtenis het my laat dink aan Jesus se woorde in Mattheus 6:18: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” In Spreuke 19:17 lees ons: “Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” En in Spreuke 3:27 lees ons: “Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.”

Natuurlik moet ons nie uitreik na mense in nood met die doel om iets terug te kry nie. Tog bly dit vir my interessant hoeveel keer ek al beleef het dat God goed is vir diegene wat goed is vir ander – selfs al weet min mense daarvan. Kom ons hou ons oë oop om vir Hom ’n instrument te wees. Ek is seker dit plaas ’n glimlag op sy gesig. Sterkte.

Vader God, dankie dat U ons wil gebruik om in mekaar se lewens U goedheid te demonstreer. Help my om die geleenthede raak te sien waar ek goed kan wees vir ander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die matrikulant, Keizhia op pad na haar matriekafskeid by www.benescke.co.za of die sosiale netwerk, Fbook se Stories van hoop bladsy.

Opdrag vir die dag: Bid spesifiek dat God jou deur sy Heilige Gees sal lei om ten minste een persoon in nood (fisies of emosioneel) raak te sien vandag. Vra Hom ook vir wysheid oor hoe jy die situasie moet hanteer. Wees dan gehoorsaam en reik uit!

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Dag 12: Hy wil Homself aan jou openbaar - 18 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 10: Hy wil ons fondasie sterk bou - 14 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.