Dag 13: Hy wil met jou praat - 19 Oktober 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
In reaksie op gister se dagstuk, het ’n leser die volgende vraag gevra: “Ek verstaan die belangrikheid om die Bybel te lees, maar wat as ek sukkel om te bid? Dit voel kompleet asof daar ’n blokkasie is. Kan jy help asseblief?”
Dink vir ’n oomblik aan ’n rivier. Alhoewel die water aanvanklik vinnig vloei, gebeur dit dat takke, blare, grond en selfs klippe meegesleur kan word. Sodra die water ’n nouer gedeelte in die rivierbedding bereik, veroorsaak die opgehoopte puin ’n blokkasie wat die water nie net stadiger laat vloei nie; dit kan die water selfs heeltemal tot stilstand bring.
In ons lewens kan die vloei van die Heilige Gees met die water in die rivierbedding vergelyk word. Soms hoor ons God se stem duidelik. Ander kere sukkel ons – weens blokkasies in ons lewens. Blokkasies kom in die vorm van bitterheid, ’n onvergewensgesindheid, trots, doelbewuste sonde wat ons nie bely nie, ongehoorsaamheid aan ’n opdrag van God of selfs rebellie teenoor God. Hierdie blokkasies beroof ons van ons vrymoedigheid om met God te praat – ook om die Heilige Gees se stem te hoor.
Daar is egter genade en vergifnis wanneer ons hierdie blokkasies identifiseer, bely en daarvan wegdraai. In 2 Kronieke 7:14-15 sê God: “ . . .en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.” Ook in Jeremia 33:3 sê God: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord.” En in 2 Kronieke 16:9: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”
God wil met ons praat - en Hy wil ons lei om die "takke, blare, grond en klippe" in ons lewens te identifiseer wat tussen ons en Hom staan sodat ons sy stem duidelik kan hoor. Kom ons gee Hom 'n kans. Ons mag dalk selfs verstom staan oor hoe helder en duidelik sy stem wel kan wees sodra ons die puin verwyder. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U met my wil praat. Help my asseblief om die “takke, blare, grond en klippe” te identifiseer wat die blokkasie in my verhouding met U veroorsaak en gee my die krag om daarvan weg te draai sodat ek U stem kan hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Opdrag vir die dag: Vat ’n pen en papier en gaan sit met ’n oop hart voor God. Vra Hom om jou te wys of daar iets is wat ’n blokkasie tussen jou en Hom veroorsaak. Skryf dit neer. Bely dit en kies om daarvan weg te draai.
Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na