Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 14: Hy kan rouklere, feesklere maak - 20 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Wat gebeur as jy ’n rok in die Dooie See los? Dít is wat Sigalit Landau, ’n Israeli kunstenaar wou weet. Sy het ’n swart rok vir 3 maande in die soutwater gesit. Die resultaat? Soutkristalle het die rok getransformeer van ’n “rou-rok tot ’n trourok”.

Gedurende situasies van verlies, ontnugtering en teleurstelling voel ons met tye asof ons ons klere en hare wil afskeer en met pikswart rouklere vervang. Die intense emosies van skok en hartseer laat ons passief en selfs depressief.

By God is daar egter hoop. Hy kan ons situasie verander. In Jeremia 31:13 lees ons: “Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” Ook in Psalm 30:6 staan geskryf: “Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” En in Psalm 30:12-13 skryf die Psalmdigter: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!”

Die proses om rouklere in feesklere te verander, neem tyd. In die seisoen waarin dit voel asof ons nie asem kry nie, is dit dalk omdat ons juis “onder die water” is, waar God sy sout gebruik om ons wonde te genees. Hy vou ons toe in sy genade en liefde terwyl soutkristalle die “rourok” tot ’n spierwit “trourok” verander.

Wat is die seersituasie wat jy diep weggebêre het? Jou egskeiding, die dood van ’n geliefde, onregverdige behandeling in die werkplek, iemand wat jou vertroue verbreek het of selfs ’n familielid of vriendin wat jou seergemaak het? Kom ons vertrou God om die genesing te bring. Hy wil ons rouklere uittrek en vir ons feesklere aantrek sodat ons soos die Psalmdigter kan sê: “Here my God, vir altyd sal ek U loof.” Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my trane kan afvee en my nuut met vreugde kan vul. Ek bring vandag  (noem die situasie) na U. Dankie, dat U elk van my emosies ken rondom die saak. Help my asseblief om geduldig te wees in die genesingstyd. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien die foto op www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook se bladsy, Stories van hoop.

Opdrag vir die dag: Dink vir ’n oomblik aan ’n situasie wat jou intens seergemaak het in die verlede. Neem vrymoedigheid om met God daaroor te gesels. Vra Hom om jou te genees sodat jy die rouklere kan uittrek en Hy sy feesklere vir jou kan aantrek.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Dag 15: Hy kan wonderwerke doen - 21 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 13: Hy wil met jou praat - 19 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.