Dag 19: Hy kan ons as instrumente gebruik - 27 Oktober 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Paar maande gelede het ons een oggend in die ontbytprogram by Tygerberg 104FM oor ’n foto van ’n bejaarde paartjie (beide in hul 70’s) gepraat. Die foto het daardie oggend in Die Burger verskyn. In die foto staan die paartjie verslae voor hulle afgebrande motorhuis. ’n Inbreker het hulle motor probeer steel. ’n Kortsluiting het ’n brand veroorsaak. Binne minute het hulle motorhuis, met onder meer al die tannie se wintersklere afgebrand. Die brandweer het betyds opgedaag om te verhoed dat die brand na hulle huis versprei.
In die ateljee het ons op die ingewing van die oomblik besluit om ons luisteraars se hulp te vra om die paartjie in hulle nood by te staan. Ons was verbaas oor die vinnige, ruimhartige bydraes van die luisteraars. Die volgende dag kon ons hulle gaan verras. (Kyk gerus na hulle reaksie op die videogreep onderaan).
By ons aankoms in Plumstead by die paartjie se huis was hulle verras. Met die aankondiging dat ons luisteraars, wat hulle van geen kant af ken nie, bereid was om ’n bedrag van R21,000 by te dra het hulle in trane gelaat. Deur die vrou se snikke deur, het sy ons vertel dat sy daardie oggend haar lot by God bekla het. Omdat hulle nie versekering op die motor gehad het nie, het sy gewonder hoe hulle voortaan oor die weg sou kom.
Terwyl die vrou gebid het, het die woorde in Psalm 37:5 in haar hart kom lê: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Sy het nie geweet wat op pad was nie, maar God het. Dit was Hy wat ons aandag na die artikel getrek het. Ook Hy wat die luisteraars se harte aangeraak het om geld te skenk. Alles was sy inisiatief. Ons was bloot die instrumente wat Hy gekies het om te gebruik.
God kan dieselfde in jou lewe doen wanneer daar ’n dringende behoefte is. Hy gebruik mense om sy hande en voete te wees. Net so is daar daagliks vir ons elkeen hordes geleenthede waarin ons ’n verskil in ander se lewens te maak. Soms is die behoefte fisies van aard. Ander kere, emosioneel. God weet wat nodig is en Hy kan en wil ons deur sy Heilige Gees lei om sy liefde aan ’n gebroke wêreld te demonstreer. Sal jy vandag aan sy roepstem gehoorsaam wees? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U van my behoeftes weet en dat U mense gebruik om U hande en voete in my lewe te wees. Help my ook om beskikbaar en gehoorsaam te wees as U my vandag wil gebruik as ’n instrument om u liefde aan iemand in nood te demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien die foto wat in Die Burger verskyn het by www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook se Stories van Hoop bladsy.
- Kyk die video hier:
o https://www.youtube.com/watch?v=oRKasrzxcY0
o https://www.youtube.com/watch?v=0WTYC29DGPw
Opdrag vir die dag: Vra God spesifiek om jou oë oop te maak vir 'n nood vandag. Vra Hom ook om deur sy Heilige Gees vir jou wysheid te gee hoe jy die nood moet verlig. Jy mag dalk die antwoord op iemand anders se gebed wees.
Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na