Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 20: Hy kan jou vrymaak - 28 Oktober 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

'n Paar jaar gelede het ek vir Glynis Grant ontmoet. Dit was in daardie stadium 9 maande nadat twee inbrekers haar in haar huis oorval, in die kop geskiet het en vir dood agtergelaat het. Wat my beïndruk het, buiten vir God se bonatuurlike beskerming daardie nag, was Glynis se geloof in God en ook dat sy geen wrok teen die aanvallers gekoester het nie. Hier is 'n uittreksel van 'n e-pos van haar wat ek in verlede week ontvang het:

Glynis: “Ek moes onlangs 'n begrafnis in Gouda bywoon (waar die inbraak jare gelede plaasgevind het). Ek woon nie meer daar nie. By my aankoms op die dorp, het iemand my vertel dat die outjie wat die skoot daardie nag afgevuur het, na meer as 'n dekade uit die tronk vrygelaat is. In my gees het ek ervaar dat ek hom moes sien en sê dat ek hom vergewe het.

Iemand het my na die jongman geneem. Toe ek voor hom staan, het ek hom gevra of hy weet wie ek is. Hy het gesê: “Nee mevrou.” Ek het vir hom gesê: “Ek is juffrou Grant. Die vrou wat jy geskiet het.” Sy oë het onmiddellik met vrees gevul en ek kon sien dat hy geweldig ongemaklik was. Ek het my hand op sy bors gesit en vir hom gesê: “Dis fine. Ek het jou reeds 13 jaar gelede vergewe en vrygespreek.” Ek kon sien dat hy diep binne sy gees geworstel het. Sy oë het vol trane geskiet. Hy het sy kop laat sak en gesê: “Mevrou, daai beeld speel elke dag voor my af. . . ek is so jammer vir wat ek aan jou gedoen het.” Ek het vorentoe geleun, hom teen my vasgedruk en gesê: “Ek het jou vergewe en jou vrygespreek.” Hy het geruk soos hy snik. Ek kon ervaar dat dit vir hom geweldige genesing in daardie oomblik gebring het.

Met sy vonnis tronk toe, was die seun se voormalige meisie 6 maande swanger. Sy het daardie dag naby aan hom gestaan. Ek kon optel dat sy 'n wrok teen hom gekoester het vir wat hy aan haar en hulle dogtertjie gedoen het. Ek kon met beide van hulle gesels oor die belangrikheid van keuses – en ek kon verduidelik dat my keuse om die outjie jare gelede te vergewe en vry te spreek my gevrywaar het van 'n lewe vol haat en bitterheid. Ek het gesê dat hulle dit ook kan beleef, maar dat vergifnis die sleutel is. Waar die vrou aanvanklik huiwerig was om dit te doen, het sy vorentoe getree, die outjie in sy oë gekyk, hom 'n druk gegee en terwyl trane oor beide se wange vloei het hy haar om verskoning gevra en sy het hom vergewe.

Op pad terug van Gouda het ek God gedank dat Hy hierdie ontmoeting bestem het terwyl ek nuut besef het dat wanneer Hy ons vrymaak ons waarlik vry is. Ek eer Hom daarvoor!”

In Johannes 8:36 lees ons: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.” Ook in Deuteronomium 30:19 staan geskryf: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”

God kan en wil jou ook vrymaak. Alles gaan oor keuses, want ons keuses het gevolge. Kom ons kies vandag om te vergewe en vry te spreek. Kom ons kies die lewe en ons sal die gevolge daarvan ook in ons lewens ervaar. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat u my vergewe en vryspreek as ek waarlik berou het. Help my asseblief om dieselfde te doen teenoor mense wat my te nagekom en seergemaak het sodat ek ook vry kan leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Glynis by www.benescke.co.za of op die Stories van hoop bladsy op Fbook.

Opdrag vir die dag: Sit vir 'n oomblik en dink of jy 'n wrok in jou hart het teen iemand. Dink ook of daar iemand is wat 'n wrok teen jou koester. Vra God om jou vry te maak en jou in staat te stel om te vergewe. Wees gehoorsaam as die Heilige Gees jou lei om iets spesifiek te doen.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke

Previous article: Dag 21: Hy kan – en Hy sal! - 31 Oktober 2016 Prev Next article: Dag 19: Hy kan ons as instrumente gebruik - 27 Oktober 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.