Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie was Vasti? - 16 November 2016

Neville Turley

Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas. Spreuke 19:21

Om meer uit te vind oor persoonlikhede in die Bybel wat minder bekend is, is werklik 'n fassinerende oefening. Sommige is vandag steeds rolmodelle. Ander is weer perfekte voorbeelde van hoe ons moet waak om nie soos hulle te word nie. En dan is daar diegene deur wie se besluite God gewerk het om sy volk te bewaar. Vasti was so 'n persoon.

Vasti was met koning Ahasveros wat geregeer het van Indië tot Ethiopië, getroud. In die derde jaar van sy regering, het hy al die edelmanne en amptenare van sy ganse ryk, sowel as die leëroffisiere van Persië en Medië na 'n banket in sy paleis genooi. Vir 'n volle 180 dae het hy hulle feestelik onthaal en al die rykdom en die prag en praal van sy koninkryk vertoon.

Daarna het die koning al die inwoners van Susan (sy vesting) uitgenooi om by sy gaste aan te sluit vir 'n fees in die paleistuin wat 'n volle week geduur het.

Dit moes die moeder van alle tuinpartytjies gewees het. Die tuin en binnehof was spesiaal versier en daar was silwer en goue rusbanke. Die wyn is uit goue bekers bedien en almal kon drink soveel hulle wou. (Ester 1:7-8)

Op die sewende dag het die koning, baie vrolik van al die wyn, beveel dat Vasti voor hom en sy aangeklamde gaste moet verskyn. Hy wou vir almal wys hoe mooi sy is.

Vasti het egter geweier. Die koning was woedend. Hy was kwaad omdat sy hom nie met die nodige eerbied behandel het nie. Na raadpeleging met sy raadgewers is daar besluit dat haar gedrag onvergeeflik was. Die koning het ontslae geraak van Vasti en haar uit sy paleis verban.

Vasti se minagting van die koning se bevel sou verreikende gevolge hê. Ester, 'n Jodin, het koningin geword en haar oom, Mordegai, uiteindelik die koning se minister. Sy het 'n plan om al die Jode te laat uiroei, gefnuik. Die koning het boonop aan die Jode die reg gegee om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Dit is gedoen en die Joodse nasie het behoue gebly. Vyfhonderd jaar later is God se belofte aan Abraham dat in hom al die volke van die aarde geseën sal word (Genesis 12:2-3) met die geboorte van die Messias in Betlehem vervul.

God se plan dat alle mense deur Jesus Christus geseën sal word, het geseëvier.

Gebed: Almagtige Vader, dankie dat U in beheer is en dat U dit vir ons moontlik gemaak het om deur u Seun, Jesus Christus, deel te hê aan die belofte wat U aan Abraham gegee het. Amen

Previous article: 'n Meisie met die naam Rodé - 17 November 2016 Prev Next article: Die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is - 15 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.