Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

'n Meisie met die naam Rodé - 17 November 2016

Neville Turley

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.  Openbaring3:20

God werk direk en indirek deur mense uit alle lae van die samelewing om sy Skepping te herstel. Gister het ons gesien hoe 'n besluit wat koningin Vasti geneem het, uiteindelik die lot van die Joodse volk positief beïnvloed het. Vandag kyk ons na Rodé se rol in die jong Christelike gemeente.

Rodé was 'n diensmeisie van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is.

Die jong gemeente het 'n vlaag van vervolging beleef. Herodes Agrippa, die kleinseun van Herodes die Grote, het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat doodmaak. Toe hy sien dat dit groot byval vind by die Jode het hy besluit om Petrus voor die hof te daag. Hy het Petrus in die tronk gegooi en 16 soldate beveel om hom te bewaak, vier soldate vir elke ses uur skof. Twee was in die sel by Petrus en twee buite die seldeur.

Gedurende die nag het 'n engel van die Here Petrus op 'n wonderbaarlike wyse gered en hom uit die tronk gelei. Buite gekom, het hy besluit om na Maria se huis toe te gaan.

Binne in die huis was 'n groot groep gelowiges bymekaar om saam met die dissipels vir Petrus te bid. Skielik was daar 'n klop aan die deur.

Rodé het gaan kyk wie by die deur is. Tot haar verbasing en vreugde herken sy Petrus se stem. Sy het binne toe gehardloop om die ander te gaan vertel dat Petrus by die deur is. Sy was so opgewonde dat sy nie eers die deur oopgemaak het nie. Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal." Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.” (Handelinge 12:13-16) Sy het volgehou dat dit Petrus is en Petrus het aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak het hulle besef dat sy reg was.

Dit was nie nodig vir Rodé om Petrus te sien om hom te erken nie. Sy het sy stem gehoor en geglo dat dit hy was. Wanneer ons die stem van die opgestane Here hoor, moet ons op dieselfde manier reageer. Jesus het vir Tomas gesê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Johannes 20:20)

Het jy al op die roepstem van Jesus geantwoord? Die tyd om Hom te antwoord is nou.

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om U met ons geloofsoë te kan sien, Vul ons met u Heilige Gees sodat ons nog nader aan U kan kom. Amen

Previous article: Staan vas in jou geloof - 18 November 2016 Prev Next article: Wie was Vasti? - 16 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.