Staan vas in jou geloof - 18 November 2016
Neville Turley
Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” Lukas 9:62
Orpa het in die tyd van die rigters geleef, 'n tyd toe daar vrede tussen Israel en Moab geheers het. Sy was getroud met Kiljon, die seun van Naomi. Haar man en sy familie het vir 'n tydperk van tien jaar in Moab gewoon. Naomi se man, Elimelek, hulle seun Maglon wat met Rut getroud was, en Kiljon het almal daar gesterf.
Daar was hongersnood in Israel en toe Naomi hoor dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy besluit om na haar tuisdorp, Betlehem terug te keer.
Naomi het vir Orpa en Rut gesê dat hulle eerder na hulle ouerhuise moet terugkeer. Sy het toe gebid dat die Here hulle moet seën. Beide Orpa en Rut het egter geweier om Naomi te verlaat. “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.” (Rut 1:10)
Naomi het weer by hulle aangedring om na hulle ouerhuise toe te gaan. Rut was vasbeslote om nie om te draai nie en by Naomi te bly. " … u volk is my volk; u God is my God;" (Rut 1:16)
Orpa het egter besluit om terug te gaan na haar mense en hulle gode. Sy was in trane, maar het hulle gegroet en omgedraai. Orpa het vroeër gesê dat sy saam met Naomi wil gaan, maar uiteindelik ws haar familie en hulle gode 'n groter aantrekkingskrag.
Die Bybel vertel ons niks meer van Orpa nie, maar wel baie meer van Rut. Sy is met Boas getroud en was koning Dawid se oumagrootjie. Sy was ook een van Jesus se voorouers. (Matteus 1:5)
Party keer gedra ons ons soos Orpa. Ons wil doen wat reg is en godvresend leef, maar dan geeo ons to aan versoekings wat ons op 'n verkeerde pad lei.
Gebed: Hemelse Vader, ons bid dat die Heilige Gees aan ons die nodige krag sal gee om vas te staan in ons geloof. Skenk aan ons die genade om deur ons oprtrede teenoor ander te wys dat ons U aanbid. Amen