Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Johannes die Doper - 5 Desember 2016

Xanthe Hancox

Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas.  Lukas 1:59-63

Lukas beklemtoon op 'n besondere manier die menslikheid van die persone wat God gekies het om te gebruik. Sagaria, Elisabet, Maria – ek dink Lukas wil hê dat ons hulle as doodgewone mense moet sien.

Stel jou voor, die seremonie om Johannes sy naam te gee, het so amper in 'n familietwis ontaard. Êrens in die middel van die besnydenisseremonie, toe hulle die kleintjie Sagaria wou noem, het Elisabet teen alle gebruike van die tyd die seremonie onderbreek en daarop aangedring dat die kleinding Johannes moet heet. Almal was geskok.

In die Midde-Ooste van daardie tyd het ouers hulle kinders of na 'n familielid vernoem of 'n naam met profetiese betekenis gegee. Om die seuntjie na sy vader te vernoem, het geïmpliseer dat hy in sy pa se voetspore sou volg en 'n priester sou word.

Enige ander naam het die teenoorgestelde geïmpliseer. Johannes sou nie in sy pa se voetspore volg nie. Hy sou dus nie sy pa se take aanleer nie. Hy sou nie 'n priester word nie. En dit was dan ook presies wat gebeur het. Johannes se lewe het heeltemal anders uitgedraai as die van sy vader:

  • Sagaria was 'n priester; Johannes was 'n profeet
  • Johannes was 'n nasireër; sy vader was nie
  • Sagaria het tussen die mense gewoon; Johannes het in afsondering gewoon
  • Sagaria was deel van die ou godsdiensbedeling, Johannes was nie

Wanneer ons waarlik in Jesus glo, kry ons ook 'n nuwe naam, 'n naam wat vir almal vertel dat ons anders gaan wees.  Daardie naam is Christen. As Christen, moet ek en jy ook ons rug draai op wie ons was voor ons 'n Christen geword het.

Gebed: Here, baie dankie vir Johannes, en vir al daardie gewone mense wat op u roepstem geantwoord het. Help ons om ons roeping as Christene duidelik uit te leef. Amen

Previous article: Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Keiser Augustus - 6 Desember 2016 Prev Next article: Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Maria en Elisabet - 2 Desember 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.