Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Keiser Augustus - 6 Desember 2016
Xanthe Hancox
In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Lukas 2:1-3
Ai tog, die burokrasie! Dit blyk dat regerings se komplekse administratiewe prosedures niks nuut is nie.
Keiser Augustus het van 31 v.C. tot 14 n.C. geregeer, 'n tyd waarna verwys word as 'n goue tydperk vir Rome. Hy het heel moontlik beveel dat daar 'n sensus moet wees ter wille van die invordering van belasting, om te bepaal wie militêre diens moet doen en om meer oor sy ryk en dit wat bereik is, te wete te kom. Sirenius het twee termyne as goewerneur gedien, 6-4 v.C. en 6-9 n.C. En dit is ook die rede hoekom verskeie geleerdes glo dat die werklike datum van Jesus se geboorte in ongeveer 4 v.C. was.
Die sensus was nie eenvoudig nie – mense moes in die stad van hulle geboorte gaan registreer. Dit het beteken dat Josef en Maria ongeveer 111 km van Nasaret na Betlehem moes reis. Ondanks wat oorlewering ons wil laat glo, is daar geen sprake in die Bybel van 'n donkie nie en het hulle heel moontlik die reis te voet afgelê. Deur hulle die oproep tot 'n vervelige sensus met al sy rompslomp te laat gehoorsaam, het God verseker dat die profesie van Miga 5:1 vervul word: "Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!"
Na hulle ontmoetings met engele en die wonderwerk van Maria se swangerskap, was 'n onplesierige reis na Binnelandse Sake seker nou nie juis wat hulle verwag het nie.
Dit is nie altyd vir ons duidelik hoe die Here in ons omstandighede werk nie. Vandag se teks verseker ons dat selfs wanneer ons besig is om ons gewone dagtakies en verantwoordelikhede uit te voer, God besig is om in ons lewens te werk. Kan jy terugkyk op die jaar 2016 en God se hand in jou lewe sien?
Gebed: Dankie Here dat U altyd besig is om in my lewe te werk. Help my om u hand in my lewe te kan raaksien en gee dat dit wat U in my bewerk vir diegene rondom my 'n bemoediging sal wees. Amen