Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Die skaapwagters - 8 Desember 2016

Xanthe Hancox

Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is … Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.

Ek wonder hoe ek sou reageer as ek een van daardie skaapwagters was. Ek wil graag glo dat ek soos hulle sou reageer, maar ek is nie so seker nie. Die kanse is goed dat toe die engele weg is, ek versigtig sou rondkyk om te sien of die ander ook gesien het wat ek gesien het. Miskien sou ons almal eers 'n lang debat oor ons opsies gevoer het. Kan ons regtig die skape alleen laat? Wat as die eienaar van die skape uitvind? Wat as iets met die skape gebeur terwyl ons weg is? Wat as ons verkeerd gehoor het?

Ek dink die meeste van ons sou besluit het om nie in geloof te handel nie.

God praat vandag nog met ons deur sy Woord, en Hy doen dit om ons aan die gang te kry. Baie keer hoor ons sy stem, maar ons is bang oor wat ander daarvan sal sê, of ons aandag word deur iets anders afgelei. Baie keer hou ons nie van wat God vir ons sê nie. Ons hou nie daarvan nie want dit beteken verandering. Of dit beteken dat ons iets moet doen waarmee ons miskien nie gemaklik is nie, of dat ons moet ophou om iets te doen waarvan ons baie hou.

Die skaapwagters het teruggegaan met blydskap (Lukas2:20) Hulle het God geloof en geprys. En ons weet wat gebeur het toe daardie onopgevoede, eenvoudige mense begin het om mense te vertel dat die Verlosser gebore is: mense was verstom!

Wanneer God met ons praat is dit belangrik dat ons reg optree. Die boodskap van Kersfees roep ons tot aksie. God roep sommige tot die belangrikste aksie – om jou lewe aan Hom oor te gee. Ander weer word geroep om weg te draai van iets wat jy weet verkeerd is. Ons maak gewoonlik allerhande verskonings en rasionaliseer sonde, maar ons weet wat reg is.

Luister na die Kersverhaal. Hoor die boodskap. Doen iets wat moed verg hierdie Kersfees. Volg die voorbeeld van die skaapwagters en antwoord in geloof op God se stem wat jy deur sy Woord hoor.

Gebed: Vader, dankie vir die verhaal van die skaapwagters. Vul ons met die goeie nuus en gee dat ons U in alles wat ons doen sal loof en verheerlik. Amen

Previous article: Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Simeon - 9 Desember 2016 Prev Next article: Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Josef - 7 Desember 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.