Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Josef - 7 Desember 2016
Xanthe Hancox
Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Matteus 1:18-20
Ons is geneig om baie meer oor Maria as oor Josef te praat. Hy is na alles nie Jesus se biologiese pa nie, en daarom dink ons party keer aan hom net as die man wat seker gemaak het hulle reis na Betlehem en kom veilig daar aan.
Matteus se weergawe van die geboorte sluit 'n deel in wat ons 'n kykie gee op hoe Josef miskien daardie eerste Kersfees ervaar het. Ons het hier te make met 'n man wie se verloofde hom vertel het dat sy swanger is. Verder vertel sy Hom dat die swangerskap van die Heilige Gees kom. Die mense van die eerste-eeuse Palestina het net so goed soos ons geweet hoe babas gemaak word, en Josef het nie haar storie geglo nie. Sou jy haar geglo het?
Ek stel my voor hoe Josef in die nag wakker lê, sy hart is gebreek, hy is kwaad en probeer om sy opsies te oorweeg. Alles in ag geneem, Josef het alle reg gehad om van haar te skei. Die Joodse owerhede kon haar gestenig het. (Deuternonomium 22:23-24) Josef moes Maria baie liefgehad het, want hy besluit om die verlowing stilweg te verbreek sodat sy nie in die skande gesteek word nie.
Maar dan verskyn God op die toneel. Toe 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en aan hom vertel wie Jesus is, twyfel hy nie een oomblik nie, hy verander sy plan en trou met Maria. (Matteus 1:21) Maria het met sekerheid geweet, maar Josef het met slegs die droom en Maria se woord, die onmoontlike geglo.
Josef leer ons om vas te staan wanneer dinge moeilik raak en om in geloof gehoorsaam te wees selfs wanneer ons nie verstaan nie. Hy wys ons dat ons in geloof moet voortgaan selfs wanneer dit makliker sal wees om ons eie kop te volg.
Gebed: Here, help my om u Woord te gehoorsaam, selfs wanneer die situasie onmoontlik lyk. Help my om Josef se voorbeeld te volg en in geloof voort te gaan in stede van om 'n maklike uitkoms te soek. Amen