Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Anna - 12 Desember 2016
Xanthe Hancox
Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het. Lukas 2:36-38
Alhoewel die sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) baie dieselfde gebeure en verhale in Jesus se lewe bevat, het elke skrywer tog sy eie temas en skryfstyl. Een van Lukas se uitstaande kenmerke is die prominente plek wat hy aan vroue in sy Evangelie gee.
Tussen hulle is Anna, een van die min mense wat, toe sy ouers Jesus as baba na die Tempel geneem het, Hom as die Messias herken het. Anna was nie soos die meeste vroue van haar tyd nie. Na haar man se dood, sou mense haar aangemoedig het om weer te trou en kinders te hê. Anna het egter gekies om te vas en te bid en God dag en nag te dien.
Wat het haar gemotiveer om so 'n lewe te lei?
Anna was 'n vrou met hoop. Sy het nie een oomblik getwyfel dat God sy beloftes sou nakom nie. Gevul met die Heilige Gees, was sy daagliks in die huis van die Here waar sy Hom deur gebed gedien het en met mense gepraat het oor die Here se belofte dat Hy 'n Verlosser sou stuur.
Ons word almal ouer, en as ons ons hoop op wêreldse goed vestig, kan die teleurstellings van die lewe maklik van ons siniese mense sonder hoop maak. Anna se hoop in God en die wete dat Hy sy beloftes sou nakom, het soos sy ouer geword het, net sterker gegroei. Sy het nooit opgehou om God in geloof te dien en met hoop te bid nie.
Waarvoor hoop jy hierdie Kersfees? Die hoop wat God in ons harte plaas, is 'n begeerte na die koninkryk van die Hemel en na die ewige lewe wat volkome geluk sal bring. Hoop groei deur gebed en volharding.
Gebed: Here, gee dat ek nooit sal ophou om my hoop op U te vestig en op u beloftes te vertrou nie. Gee dat my ywer om vir u koninkryk te werk en my liefde vir gebed sal toeneem. Gee dat ek nooit sal ophou om U te loof en te dien nie. Amen