Wees deursigtig - 18 Januarie 2017
Xanthe Hancox
Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God. 2 Korintiërs 1:12
Die Korintiërs het gekla dat Paulus nie heeltemal openhartig en eerlik met hulle was nie: alhoewel hy belowe het om Korinte weer te besoek, het hy twee keer kop uitgetrek. Was Paulus onopreg? Het hy agter ander se rug plannetjies gemaak om homself te bevoordeel?
Paulus spreek hierdie vrae aan in 2 Korintiërs 1:12-14. Hy is trots daarop dat sy gedrag teenoor die Korintiërs in alle opsig deursigtig en eerlik was. Hy het sy besoeke gekanselleer, nie om homself te bevoordeel nie, maar omdat hy nie weer 'n keer die Korintiërs wou bestraf nie. Hy het dus sy besoek vertraag omdat hy, wanneer hy wel terugkom, geluk wou bring eerder as om hulle te beskuldig en te berispe. (2 Korintiërs 1:23-24)
Alhoewel Paulus se integriteit hier bevraagteken word, het hy geweet dat op grond van sy deursigtigheid en eerlikheid teenoor hulle in die verlede, hulle hom sou vertrou. Hy herinner hulle dat hy altyd met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom, teenoor hulle opgetree het.
Ons vereis deursigtigheid van ons regering, ons base, ons vriende, maar is ons deursigtig en kan mense ons vertrou? Ons kom daagliks in die versoeking om die waarheid weg te steek, Gee ons voor dat ons 'n kollega ondersteun net om hom agter sy rug te beswadder? Hierdie voorbeeld van Paulus maak dit duidelik dat dit verkeerd is.
En as mense ons nie kan vertrou nie, kan God ons vertrou?
Gebed: Hemelse Vader, help my om deursigtig te wees. Gee dat my houding openhartig en eerlik sal wees sodat ander my kan vertrou, en die lig van Christus in my sal kan sien. Amen