Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees dankbaar vir verhoudings - 17 Januarie 2017

Xanthe Hancox

As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. 2 Korintiërs 1:6-7

Die begin van Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte getuig van 'n diep verhouding met hierdie gemeente. Hulle is so nou verbonde dat wat ookal met die een gebeur, gebeur met almal. Dit is nogal verrassend, want lees 'n mens verder besef jy dat dié verhouding was erg gespanne. Dit laat 'n mens wonder hoe mense wat duidelik op sekere punte van mekaar verskil het, teleurgesteld was in mekaar, en selfs kwaad was vir mekaar tog kon sê: "En ons hoop vir julle is vas." (2 Korintiërs 1:7 – 1933/53-vertaling)?

Die antwoord lê daarin dat goeie verhoudings nie noodwendig beteken dat ons oor alles moet saamstem nie, maar wel dat ons mekaar in die najaag van 'n gemeeskaplike doel sal respekteer. Ons kies nie altyd ons medewerkers nie, of die mense wat saam met ons op verskeie komitees dien, of selfs ons medelidmate in ons gemeente nie – baie soos die Korintiërs wat nie vir Paulus as hulle apostel gekies het nie en Paulus het ook nie diegene wat tot bekering gekom het, gekies nie. Baie van ons verhoudings is nie gebaseer op hoeveel ons van mekaar hou nie, maar wel op die behoefte om saam te werk om 'n gemeenskaplike taak te kan uitvoer.

Hoe moeiliker dinge raak, hoe belangriker is goeie verhoudings.

Paulus maak dit duidelik dat ons nie goeie verhoudings deur net vaardighede en metodes kan bou nie. Wat ons bo alles nodig het, is hulp van God. Om vir mekaar te bid is die hoeksteen van goeie verhoudings. Paulus maak dit duidelik dat goeie verhoudings nie net die gevolg van vaardighede en metodes is nie. "Stry saam met my deur vir my te bid," skryf hy vir die gemeente in Rome (Romeine15:30)

Hoeveel belê ons in ons verhoudings met mense wat saam met ons werk? Gee ons genoeg om vir hulle om vir hulle te bid? Leer ons hulle goed genoeg ken sodat ons doelgerig vir hulle kan bid? Laat ons mense toe om ons te leer ken sodat hulle vir ons kan bid.

Gebed: Here, vergewe my al die kere wat ek toegelaat het dat 'n meningsverskil 'n verhouding seer maak. Leer my om my na U te wend wanneer dinge moeilik raak en skenk aan my die nodige dissipline om vir diegene wat saam met my werk, te bid. Amen

Previous article: Wees deursigtig - 18 Januarie 2017 Prev Next article: Alles nuut - 16 Januarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.