Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Weerspieël die heerlikheid van die Here – bietjie vir bietjie - 23 Januarie 2017

Xanthe Hancox

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. 2 Korintiërs 3:18

Deesdae is ons obsessief oor spoed en effektiwiteit, ons wil alles so gou moontlik gedoen hê. En hierdie gewoontes en houding het ook 'n invloed op ons geestelike lewe. Ons soek 'n preek, 'n seminaar of 'n ondervinding wat onmiddellik al ons probleme sal oplos, alle versoekings sal verwyder, en ons sal vrystel van die groeipyne om volwasse in Christus te word.

God stel egter meer belang in krag en stabiliteit as in spoed.

Wanneer ons in die teenwoordigheid van die Here kom en sy Woord lees, word die sluier gelig, soos dit was met Moses toe hy die tabernakel binnegegaan het om met die Here te praat. Die woord weerspieël wat en wie ons is, maar ook die heerlikheid van die Here. Deur sy Woord begin sy beeld al hoe meer gestalte kry in ons lewens. Die heerlikheid van die Here gee dat ons ook heerlikheid uitstraal.

Die Heilige Gees maak hierdie wonderlike verandering moontlik. Om die beeld van Christus gelyk te word is ons uiteindelike bestemming, maar ons reis neem 'n leeftyd. Die Here wil dat ons elke dag 'n bietjie meer soos Hy word.

Natuurlik is die eenvoudigste dinge dikwels die moeilikste om te doen. As jy al ooit probeer het om te verslank en fiks te word, sal jy weet om reg te eet en meer te oefen is die enigste manier om dit te doen. Daar is nie wonderkos, -oefeninge of -pille nie. Jy moet net elke dag jou oefeninge doen en reg eet.

Om die Here se heerlikheid te weerspieël is baie dieselfde. Ons het 'n lied in die Sondagskool gesing wat lui: "Lees jou Bybel, bid elke dag, en jy sal groei, groei, GROEI!" Dit is so eenvoudig soos dit.

Gebed: Dankie Here dat U my daaraan herinner dat volwassenheid nie die gevolg is van 'n enkele ondervinding nie, maak nie saak hoe kragtig dit was nie. Om te groei neem tyd. Gee dat ek vanjaar en elke dag u beeld meer en meer gelyk sal word. Amen

Previous article: Skatte in kleipotte - 24 Januarie 2017 Prev Next article: Wees opreg – veral waar dit geld aangaan - 20 Januarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.