Skatte in kleipotte - 24 Januarie 2017
Xanthe Hancox
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. in alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 2 Korintiers 4:7-10
Toe hierdie brief geskryf is, was kleipotte die Tupperware van die wêreld. Dit was maklik om hulle aan te koop, hulle het maklik gebreek en enigiets kon daarin gestoor word ‑ water en kos, maar ook geld en juwele. Paulus vergelyk ons lewens met kleipotte, hy noem dat ons soos gewone kleipotte is wat maklik breek. En alhoewel ons breekbaar is, is die skat wat ons in ons het van onskatbare waarde.
God het 'n skat van onskatbare waarde in hierdie breekbare "kleipotte" geplaas. Hoekom? Sodat ander die skat van Jesus se lewe kan sien en ervaar eerder as om deur ons beïndruk te word. Ons lewens is nie uit gewapende beton, vlekvrye staal, silwer of goud aanmekaar gesit sodat ons die krediet vir ons sukses vir onsself kan toe-eien nie. Ons is maar net van gewone klei uit die aarde gemaak sodat die heerlikheid van God in ons lewens duidelik sigbaar kan wees.
Wat gebeur met 'n kleipot wanneer dit rondgestamp word en kraak? Die inhoud loop uit. En wat gebeur met 'n brose mens wat met Christus gevul is wanneer hy baie druk ervaar, sake vir hom bemoeilik word, hy vervolg word of as hy tot 'n val gebring word? Jesus, sy lewe, dood en opstanding vloei uit.
Al die woelinge en kwaai slae wat die lewe ons toedien, is nie omdat God ons verlaat het nie, maar wel omdat ons betroubare draers van sy heerlikheid is. Die Here laat die slae van die lewe toe en Hy laat toe dat ons soms gebreek word, want dit is alles deel van die Christelike groeiproses. Dit is goed om 'n " kleipot" te wees.
Gebed: Here, ons bid dat U ons sal help om met blydskap en begrip die ondervindinge wat oor ons pad kom te aanvaar en dat ons sal besef ons is van u genade afhanklik. Here help ons om die ondervindinge wat ons seermaak te aanvaar en dat deur die manier hoe ons dit aanvaar, ander Jesus in ons sal kan sien. Amen