Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 16: EK IS . . . LEI ONS DAAGLIKS - 22 Februarie 2017

Deur Benescke Janse van Rensburg

In die week gesels ek met 'n man oor sy reis as kerkplanter van die afgelope jaar. Dit was uitdagend, stresvol en met tye het die proses verseker sy tol op die gesin geëis. Dit is 'n jaar later en daar is steeds nie werklike groei nie. Terwyl die man my vertel hoeveel tyd hy spandeer aan bemarking van sy kerk en sy frustrasie as net 'n paar mense opdaag vir die Sondagdiens, tref dit my: Bestee hy dalk die meeste van sy tyd aan bemarking, eerder as om tyd in God se teenwoordigheid te spandeer waar hy 'n visie en strategie vir die pad vorentoe kan kry? Is hy oortuig daarvan dat EK IS hom geroep het tot voltydse bediening of het dit net na "'n goeie idee" geklink? Dit is verseker nie my plek om 'n oordeel te fel nie, maar dit het my tog laat dink.

In ons eie lewens het ons ook maklik die volgorde verkeerd. Ons neem besluite oor 'n verhouding, om uit ons werk te bedank en 'n eie besigheid te begin, om te verhuis of ons kinders van skool te verskuif. Eers daarna lig ons God daaroor in, in die hoop dat Hy dit sal seën. As dinge dan nie verloop soos wat ons dit beplan het nie of daar is 'n hobbel in die pad, vra ons maklik: "Maar waar is God dan? Ek het dan hieroor gebid." Wat ons vergeet is dat ons hom vooraf moet raadpleeg en nie na die tyd moet inlig oor 'n besluit wat ons reeds geneem het nie.

Die Psalmdigter het besef dat EK IS ons die pad kan wys. In Psalm 27:11 lees ons: "Leer my u wil, Here, en lei my op 'n gelyk pad sodat my vyande nie hulle sin kry nie." Ook in Psalm 143:10 staan geskryf: "Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei." In Spreuke 3:5-7 skryf die Spreukedigter: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie . . ." En in Matteus 6:33 sê Jesus: ". . . beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."

Dink vir 'n oomblik oor die afgelope paar weke se besluite in jou lewe - in die werkplek, ten opsigte van jou familie, finansies, geloof, gesondheid en verhoudings. Het jy EK IS geraadpleeg voor jy besluite geneem het of het jy Hom bloot ingelig? Neem jy besluite met die leiding van die Heilige Gees op 'n daaglikse basis? Onthou, God ken die einde van die begin en Hy weet wat vir ons voorlê in ons pad. As ons Hom vooraf raadpleeg, kan Hy ons met wysheid lei verby die uitdagings sodat ons veel vinniger ons eindbestemming kan bereik. Kom ons soek eers sy koninkryk en ken Hom in al ons weë sodat Hy vir ons die paaie gelyk kan maak. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my toekoms ken. Help my asseblief om wyse besluite te neem en help my om U stem duidelik in my lewe te hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • OPDRAG: Begin om doelbewus God te raadpleeg voordat jy besluite neem.
  • TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke

 

Previous article: Dag 17: EK IS . . . BESKERM ONS - 23 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 15: EK IS . . . HOOR ONS GEBEDE - 21 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.