Moenie dat die seisoene bepaal wie jy is nie. - 15 Maart 2017
Hennie Symington
Ek het tot die insig gekom dat daar vir ʼn mens niks beter is as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet nie. Prediker 3:12
Moenie dit wat jy glo verander afhangende van die seisoen waarin jy jou bevind nie. Mense maak dikwels dom besluite in swaar tye. Wees dus versigtig oor watter betekenis jy aan sekere dinge heg wanneer jy moeilike tye in jou lewe ervaar.
Wanneer dinge skeef loop, besef jy dit is dwaas om te dink jy kan alles in die lewe bestuur. Die lewe het ʼn manier om sy eie loop te neem. En wanneer jy jou in ʼn doodloopstraat bevind, is dit nie ʼn goeie tyd om oorhaastige besluite te neem en wilde uitsprake oor God te maak nie. Vertrou op God en kyk waartoe Hy in staat is.
Wat wel waar is, is dat God nie sy kleed na die wind draai nie. Hy bly standvastig en getrou. God is steeds teenwoordig, of jy jou in 'n put, ʼn tronk of ʼn paleis bevind. Dikwels wanneer ons terugkyk oor die swaar tye, dan verstaan ons waarom dinge nie uitgewerk het soos jy dit graag wou gehad het nie.
Maar moenie jou drome prysgee omdat jou omstandighede verander nie. Jy weet mos waartoe God in staat is!
Gebed: Here, soms kom ons tot wilde gevolgtrekkings wanneer ons lewe nie na plan verloop nie. Leer my om steeds op u tydsberekening te vertrou. Ek weet my tye is in u hande. Amen