Vergifnis ‑‑ ʼn Godswonder! - 28 Maart 2017
Hennie Symington
Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van sondes. Kolossense 1:13-14
Iemand het eenkeer gesê: “Om foute te maak is menslik; om te vergewe is goddelik.” Ongelukkig is die meeste van ons maar al te menslik wanneer dit by oortredings kom. Terwyl ons besig is om ons sonde te bely en vergifnis te vra, bedink ons al reeds die kwaad. Soms relativeer ons ons sonde met die argument: “Ek het net ʼn grappie gemaak,” of “Ek het dit nie rêrig bedoel nie.”
Tog is sondebelydenis en vergifnis die hoeksteen van ons Christelike geloof. God vergewe sondes. Trouens, dit is die rede waarom Christus aarde toe gekom het en waarom Hy aan die kruis gesterf het. Maar dis nie so eenvoudig nie. God vergewe, maar Hy kan nie maak asof dit nie gebeur het nie. Sonde sny lynreg deur God se aard en wese. God kan ook nie ontken dat ons sonde hom diep seermaak nie. Ons kan ook nie daarvan wegkom dat sonde sy merk op ons lewe en verhoudings met mekaar maak nie. God kan nie sonde oorsien nie, maar Hy het ook nie kans gesien om sy liefde vir ons te ontken nie.
Wat doen God dan om ons met hom te versoen? Hy stuur sy seun om die losprys te betaal. Jesus sterf aan die kruis sodat ons vry kan uitstap! Van nou af en vir altyd. Vergifnis is dus ʼn Godswonder in die ware en diepste sin van die woord.
Gebed:Here, vir ons is dit ondenkbaar om sonder voorbehoud te vergewe; daarom het U u seun gestuur om dit namens ons te doen. Leer ons om so te vergewe dat vergifnis ons tweede natuur word. Amen.