Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vergewe my! - 27 Maart 2017

Hennie Symington

Ter wille van u naam, Here, vergewe my sonde, want dit is groot. Psalm 25:11

Ons het almal ʼn behoefte aan vergifnis. Miskien omdat ons die enigste wesens buiten God en sy engele is wat die kennis van goed en kwaad in ons dra. Jy weet hoe sleg jy voel wanneer jy verkeerd teenoor iemand opgetree het en hoe moeilik dit is vir die persoon om jou te vergewe. Jy kan maak asof dit jou nie skeel nie, maar eintlik wil jy vergewe word. Ons hou nie daarvan dat mense sleg van ons dink nie.

Hoe vra ʼn mens om vergifnis? In ʼn wêreld vol kitsoplossings is dit maklik om “jammer” te sê sonder om dit te bedoel of sonder om regtig te besef wat jy gedoen het om ʼn ander een so te ontstel dat hy of sy nie lus het om jou te vergewe nie. Vergifnis kom nie sonder ʼn prys nie.

Bewys die egtheid van jou berou deur jou oortreding by die naam te noem en te sê: “Ek is jammer ek het jou voor ander mense verkleineer.” Of wat ookal. Moet dit nie probeer afmaak met opmerkings soos: “Ek het nie gedink jy is so kleinserig nie,” of “Ek het maar net ʼn grappie gemaak.” Dit sê vir die persoon dat jy die seer onderskat en nie ernstig opneem nie. Ware berou gaan dikwels gepaard met trane en diepe emosie.

Maak ʼn belofte van: “Ek sal dit nie weer doen nie,” en hou daarby. Gaan doen dan nabetragting oor jou motiewe en die redes waarom jy so opgetree het en sê vir jouself: “Ek glo in vergifnis en die moontlikheid om geestelik te groei omdat ek besef ek is verkeerd en graag iets daaraan wil doen.”

Gebed: Here, vergewe my! Ek het iemand met my woorde en optrede te na gekom. Help my om my hart te ondersoek sodat ek ander nie sal wond met my woorde nie. Amen.

Previous article: Vergifnis ‑‑ ʼn Godswonder! - 28 Maart 2017 Prev Next article: Om God in die dieptes van jou siel te ontmoet. - 24 Maart 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.