Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

So lig soos ʼn veertjie! - 31 Maart 2017

Hennie Symington

Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. 2 Korintiërs 2:7

Sou dit nie wonderlik gewees het as ons lewens een honderd persent in ooreenstemming met God se wil was nie! Helaas, nie een van ons kan spog met ʼn skoon blaadjie nie. Tog is daar altyd omdraaikans wanneer dit by God kom. Wanneer ons ons sonde bely is ons eintlik besig om ons lewens op te weeg in die lig van God se standaarde. Wie kan dan daarteen opweeg? Al wat jy kan doen is om jou bondeltjie sonde op die weegskaal te plaas en te kyk hoe die naald onverbiddelik boontoe skuif − ʼn skrikwekkende ervaring. Dis soos by die groentewinkel wanneer die naald boontoe beweeg met elke aartappel wat jy daarop pak. "Wat gaan die prys wees?", wonder jy.

Maar terwyl jy nog besig is om jou oortredings op die skaal te pak, gebeur daar ʼn wonderwerk!  Jou kant van die skaal word ligter, en die ander kant word swaarder. Aan die eenkant van die skaal lê jou sonde en aan die ander kant God se vergifnis. Skielik word jou sondelas so lig soos ʼn veertjie want God se genade weeg meer as jou sonde.

Hoekom dan jou sonde bely? Omdat sonde ons verhouding met God en ons medemens benadeel. Probeer ten minste om uit die moeilikheid te bly uit dankbaarheid teenoor God. As jy nodig het om jou houding te verander om sekere sondes te bowe kom, doen dit. As jy sekere situasies moet vermy waar jy weet jy gaan struikel, doen dit. As jou tong jou laat struikel, plaas ʼn wag voor jou mond. Kyk net hoeveel minder probleme jy vir jou op die hals haal omdat jou verhouding met ander en met God reg is.

Gebed: Here, U weet hoe moeilik dit vir ons is om uit die moeilikheid te bly. Ons wil so graag ʼn lewe lei waar ons nie gedurig ons sonde hoef op te weeg nie. Dankie Here, dat ons vry kan uitstap omdat U u lewe op die skaal geplaas het. Amen.

Previous article: Blye versekering, Jesus is myn - 3 April 2017 Prev Next article: Wanneer jy nie haastig is om te vergewe nie - 30 Maart 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.