Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Blye versekering, Jesus is myn - 3 April 2017

Xanthe Hancox

Op spesiale versoek het ons besluit om hierdie reeks van 'n paar jaar gelede te herhaal. Dit is ons gebed dat dit vir ons lesers tot seën sal wees – Vers-'n-Dag Span

Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.  Hebreërs 10:22

Ek het opgegroei in 'n klein gemeentetjie in Benoni. Ons het net een pianiste gehad en as sy om een of ander rede die oggend nie daar kon wees nie, moes ons maar a capella sing. Elke keer wanneer dit gebeur het, het ons Blye versekering gesing. Ek weet nie hoekom nie, maar ek dink dit was omdat die wysie maklik en bekend genoeg was vir diegene in die gemeente wat nie musikaal was nie om darem sonder begeleiding op 'n manier te kon saamsing. Met gevolg dit was een van die eerste liedere wat ek as kind uit my kop geleer het alhoewel dit nie een van my gunstelinge was nie. As kind en selfs as tiener, het ek dit nie regtig verstaan nie.

Blye versekering is deur Fanny Crosby (1820-195) geskryf. Sy word beskou as een van die wêreld se vrugbaarste en talentvolste skrywers van Christelike liedere. Ten spyte van die feit dat Fanny kort na haar geboorte blind geword het, het sy meer as 8 000 liedere geskryf.

Eendag, terwyl op besoek by haar vriendin Phoebe Knapp, het Phoebe 'n nuwe melodie wat sy pas gekomponeer het op die klavier gespeel. In antwoord op Phoebe se vraag: "Wat sê hierdie melodie vir jou?" het Fanny gesê: "Blye versekering, Jesus is myn!"

Die Bybel leer ons dat ons absoluut seker kan wees dat ons deur die dood van Christus verlos is. Hierdie seker wete is nie gebaseer op innerlike gevoelens of op uiterlike tekens nie. Hierdie "blye versekering" is gegrond op die beloftes van 'n getroue God en sy geïnspireerde Woord. Dit hang nie af van hoe sterk ons geloof is nie, maar wel van Hom in wie ons glo – van Christus self!

Blye versekering gee ons 'n kykie van die vreugde wat Fanny deur haar geloof in God ondervind het. Alhoewel blind, beskryf sy dat, ten spyte van haar swaar lot, ondervind sy "heil'ge verrukking, blye genot" as gevolg van haar vertroue in Jesus. Dit was werklik die verhaal van haar lewe – laat dit ook waar wees van ons lewens.

Gebed:  Dankie Here dat ek verseker weet dat ek verlos is. Dankie vir die voorreg om U deur sang te mag loof en prys. Help my om hierdie dag en week deur geloof nog nader aan U te kom. Amen

Luister gerus hier na 'n opname van Blye Versekering.

https://www.youtube.com/watch?v=qvhYeUQVnv0

 

Previous article: Bly by my - 4 April 2017 Prev Next article: So lig soos ʼn veertjie! - 31 Maart 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.