Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Bring my die ou-ou tyding - 19 April 2017

Xanthe Hancox

Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. 2 Petrus 1:12-13

Soos so baie ander die geestelike liedere het "Bring my die ou-ou-tyding" ook oorspronklik die lig as 'n gedig gesien. Daar is nie 'n vreeslike dramatiese storie daaragter nie, behalwe dat dit in 1866 geskryf is deur 'n Engelse evangelis, mej Katherine Hankey, terwyl sy in London na 'n ernstige siekbed aangesterk het. Dit is deur biskop GW Doane getoonset nadat hy 'n jaar later by 'n internasionale YMCA-konvensie in Montreal, Kanada, gehoor het hoe iemand die gedig voordra.

Bring my die ou-ou tyding is 'n eenvoudige lied, maar dit is vol geloofswaarhede. Lees byvoorbeeld die tweede vers:

Bring my die tyding duid'lik, dat ek dit kan verstaan;

vertel my hoe die Heiland my van die vloek ontslaan.

Bring my die tyding dikwels, want ek vergeet so gou;

lank voor die middaghitte smelt reeds die môredou.

Bring my die ou-ou tyding, bring my die ou-ou tyding,

bring my die ou-ou tyding, die boodskap van Gods heil.

Ons weet nie of Katherine 'n spesifieke Bybelteks in gedagte gehad het toe sy die gedig geskryf het nie, maar dit sal my nie verbaas as die verse hierbo uit 2 Petrus 1 was nie. Petrus was naby sy dood toe hy sy tweede brief geskryf het, en hy erken dat hy niks nuut gaan sê nie. Hy gaan nie aan sy lesers iets vertel wat hulle nie reeds weet nie. Instede om nuwe gedagtes met hulle te deel, gebruik hy sy laaste brief om sy lesers aan die bekende geloofswaarhede te herinner en maan hy hulle om keer op keer na hierdie waarhede terug te keer, selfs na sy dood.

Hoekom dink jy moet ons voortdurend aan geloofswaarhede herinner word? Petrus sê dat dit moontlik is om die waarheid te hoor, dit te glo, maar dit nie ons eie te maak nie. Soos die lied dit stel: "lank voor die middaghitte smelt reeds die môredou".

Dit is maklik om in geestelike selfvoldaanheid te verval, en dit is gevaarlik. Ons moet onthou dat dit belangrik is dat dit wat ons sê ons glo ook neerslag moet vind in hoe ons leef. Hoe beïnvloed die ou-ou-tyding jou lewe vanoggend? Miskien moet jy vir die Here vra om jou opnuut te herinner aan die "boodskap van Gods heil".

Gebed: Here, dankie vir u wonderlike Woord van waarheid en lewe. Gee dat ek nooit moeg sal word vir die ou-ou tyding van u liefde vir my nie. Amen

Luister hier na 'n Engelse weergawe van die lied: https://www.youtube.com/watch?v=JmDo-qVXFrI

Previous article: U het die brood gebreek - 20 April 2017 Prev Next article: Neem my lewe - 18 April 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.