U het die brood gebreek - 20 April 2017
Xanthe Hancox
Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. ... Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. 1 Korintiërs 2:12,14
Die lied, "U het die brood gebreek," het sy ontstaan te danke aan die Amerikaanse Chautauqua Beweging van die laat 1800's. Chautauqua het oorspronklik begin as 'n someropleidingsprogram vir Sondagskoolonderwysers, maar het vinnig uitgebrei tot 'n soort somerskool waar mense in groot tente bymekaargekom het om na lesings te luister en om vermaak te word. Mary Lathbury, 'n digter, het dit geniet om Chautauqua in die somer te besoek. By een so 'n byeenkoms is sy gevra om 'n lied te skryf. Sy het haar Bybel geneem en by die meer gaan sit. Daar het sy die verhaal gelees van hoe Jesus die skare van vyfduisend gevoed het en aan sy dissipels gesê het dat Hy die brood van die lewe is, die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het en wat die ewige lewe sal gee. (Johannes 6).
'U het die brood gebreek' is steeds in baie kerke 'n gewilde lied om tydens die nagmaal te sing en uit die titel is dit maklik om te verstaan hoekom. Die woorde is ook geskik vir onder andere Bybelstudies. Die derde vers lui:
Stuur, Heer, u Heil'ge Gees,
leer my U dien;
raak tog my oë aan,
om U te sien!
wil steeds u waarheid meer
aan my ontvou,
tot ek in elke blad
my Heer aanskou!
Lees weer vandag se teksvers uit 1 Korintiërs. Die woorde van hierdie strofe is 'n wonderlike gebed om die Heilige Gees te vra om ons verstand te verlig wanneer ons die Bybel lees en bestudeer.
Het jy al ooit probeer om 'n gedeelte van die Bybel met iemand wat nie 'n Christen is nie te deel, net om uit te vind dat hy of sy dit glad nie begryp nie? Miskien kan jy nog onthou dat voordat jy tot bekering gekom het jy miskien wel die Bybel gelees het, maar dat dit vir jou onverstaanbaar was.
Toe het jy 'n Christen geword en die Heilige Gees wat in jou woon, het die Bybel vir jou lewend gemaak. Baie dinge wat jy voorheen nie verstaan het nie, het nou vir jou duidelik geword. Vanoggend herinner hierdie ou lied ons daaraan dat ons altyd vir die Heilige Gees moet vra om steeds meer van die waarheid van die Woord vir ons duidelik te maak.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat deur u Gees ons meer van U leer as wat ons in ons eie wysheid ooit kan ontdek. Leer my elke dag meer wanneer ek u Woord lees en oordink. Amen
Luister hier na 'n Engelse weergawe van die lied: https://www.youtube.com/watch?v=OzVlE8b8C5c