Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 11 Maart 2011

Profete en ander lastige mense

Johann Symington

Skrifgedeelte:

Amos 7-9

7 Hy het my 'n gesig laat sien: Die Here het by 'n loodregte muur gestaan, en daar was 'n skietlood in sy hand. 8 Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “'n Skietlood.”

Toe sê die Here vir my:

Ek gaan 'n skietlood aanlê

in my volk Israel,

Ek gaan hom nie meer spaar nie.

9 Die hoogtes van Isak sal verwoes word,

die heiligdomme van Israel

sal in puin gelê word,

en Ek sal met die swaard optree

teen die koningshuis van Jerobeam.

As iemand ʼn mens sou vra om al die Bybelboeke wat na die ou profete vernoem is, te noem dan knoop jou tong. Die volgorde van die boeke ontgaan jou en jy onthou ook nie mooi wie het wat vir watter koning gesê nie. Tog het hulle iets te sê vir ons  mense van vandag. Om die waarheid te sê, hulle gee meer as net ʼn kyk op die geskiedenis; hulle gee jou insig in jou eie menslike swakheid.

Amos is ‘n voorbeeld. Hy skryf in ‘n tyd toe Israel van die vet van die land geleef het en God en sy gebooie ver van hulle gedagtes was. Amos gee ‘n ernstige waarskuwing aan Koning Jerobeam.

Hy praat van ‘n skietlood – dis nou loodregte lyn wat die afwykings van die reguit lyn af met absolute sekerheid meet. Elke mens, gemeenskap en volk het ʼn morele standaard waarvolgens hulle leef. As die mens hierdie lyn ignoreer, is daar niks wat ‘n volk staande kan hou nie. As jy dit lees, steek jy noodwendig hand in eie boesem oor jou lewe en moraliteit.

Die profeet laat hom nie stilmaak nie en dus word hy verban deur koning Jerobeam se priester Amasia. Gelukkig was Amos geen professionele profeet nie – God het hom as skaapwagter geroep dus het hy niks gehad om te verloor nie – geen aansien, vet salaris of pensioen nie. Hy wou alleen maar die Woord van God verkondig.

Dis maklik vir ons as kerk van die Here om Amos se profesiëe af te maak as net vir daardie tyd. Tog raak sy profesie by ons ʼn  snaar aan. Dit is so relevant vir ons tyd dat ons ook daarop moet ag slaan.

As die profetiese woord van Amos net een van ons laat dink oor die profetiese roeping en taak van Christene vandag, dan het hy sy belangrikheid vir ons bewys.

Here, tye het verander sedert Amos die regering van die dag aangespreek het oor hulle immoraliteit maar ons roeping as profete bly steeds dieselfde. Help my om in moeilike tye steeds te staan vir reg en geregtigheid.

 

Previous article: Vers n dag - 14 Maart Prev Next article: Vers n dag - 10 Maart 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.