Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Prys Hom die Hemelvors - 21 April 2017

Xanthe Hancox

Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self.  Openbaring 19:12

Vir hierdie gedeelte gaan ek veral konsentreer op die Engelse woorde van, “Crown him with many crowns” wat nog altyd een van my persoonlike gunstelinge is. Die lied gee 'n wonderlike beskrywing van Jesus Christus. Tog het ons pragtige Afrikaanse woorde waarna ek later sal verwys.

Anders as die meeste liedere waarna ons reeds verwys het en wat een skrywer het, het hierdie een twee. Matthew Bridges het in 1851 met die lied begin en Godfrey Thring het 23 jaar later in 1874 nog verse bygevoeg.

Bridges was 'n Anglikaanse predikant wat op 48-jarige ouderdom oorgegaan het na die Katolieke Kerk. Hy was 51 jaar oud toe hy ses verse van “Crown him with many crowns” geskryf het. 'n Aantal jare later het Godfrey Thring,'n Anglikaanse predikant, gedink die lied moet ook die opstanding vier. Hy het toe die vers geskryf wat in Engels begin met:  "Crown him the Lord of life, who triumphed o'er the grave" asook nog 'n aantal verse.

Alhoewel daar vandag so baie verse en kombinasies van die lied is as wat daar liedboeke is, bly die tema die heerskappy van Christus, die Koning.

Die Afrikaanse weergawe wat opgeneem is in die Liedboek van die Kerk, getuig ook duidelik van  Jesus Christus, die Koning:

Prys Hom, die Hemelvors, op sy verhewe troon;

loof Hom aan wie die hemelkoor hul hulde steeds betoon.

Aan Hom, die Skepperheer, kom toe die eer en mag.

Sy Woord het alles voortgebring – roem ewig sy gesag.

Die Bybel vertel ons dat Jesus die Almagtige Heerser is. Hy het aan sy dissipels gesê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (Matteus 28:18). Paulus sê, " Alles is deur Hom en vir Hom geskep." (Kolossense 1:16(b)). Die outeur van Hebreërs skryf: "Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand." (Hebreërs 1:3). "Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is." (Filippense 2:10–11).

Die baie krone waarna Openbaring 19:12 verwys, is 'n uitdrukking van sy volkome en onbeperkte heerskappy. Jesus Christus, eens die draer van 'n doringkroon word hier beskryf as die draer van baie heerserskrone. Wanneer Hy weer kom sal dit as die Hemelvors wees en alle lof, eer en heerlikheid sal aan Hom behoort.  "Tot in die ewigheid sal ons die lied laat hoor; die hele skepping oraloor roep 'Amen' in 'n koor.

Gebed: Ons loof en prys U, ons Koning wat oorwin het. Help ons om nooit te vergeet dat U, die Lam van God, ons met u bloed gekoop het nie. Here ons wag met verlange op U koms as die Hemelvors. Amen

Luister gerus na hierdie verwerking van ‘Crown him with many crowns’ wat in die Westminster Abdy opgeneem is: https://www.youtube.com/watch?v=3kPkjghup8E

Previous article: "Bread of Heaven" - 24 April 2017 Prev Next article: U het die brood gebreek - 20 April 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.