Juig almal tot Gods lof en eer - 25 April 2017
Xanthe Hancox
’n PSALM. By die lofoffer. Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. Erken dat die HERE God is. Psalm 100:1-3a
"Juig almal tot Gods lof en eer"is heel moontlik die oudste lied wat vandag nog algemeen in gebruik is. William Kethe het die oorspronklike lirieke in 1562 geskryf. Sy naam verskyn op die lys van Protestante wat in die tyd toe die Katolieke koningin, Maria I, geregeer het, Engeland verlaat en na Europa gevlug het. Hy het eers Duitsland toe gevlug en daarna na Genève, waar hy met die vertaling van die Geneefse Bybel gehelp het.
Die wysie is ook honderde jare oud. Daar word in Engels daarna verwys as "Old 100th"of "Old Hundredth" en dit is een van die bekenste melodieë in die ganse Christelike musiektradisie. Die wysie word gewoonlik toegeskryf aan die Franse komponis, Loys Bourgeois (c.1510 – c.1560).
Die woorde is gebaseer op Psalm 100. Die eerste vers is redelik getrou aan die psalm.
Juig almal tot Gods lof en eer,
Kom dien met blydskap God die Heer.
Kom met gejubel voor Hom saam
En dank en loof Hom, prys sy Naam.
Baie psalms is vol lofprysinge, maar Psalm 100 se aanhef maak dit duidelik dat dit 'n lofpsalm is. Hierdie psalm is ook gerig aan almal op aarde en nie net aan die Israeliete nie. Dit herinner ons daaraan dat die Here oor die ganse aarde heers, en almal op aarde is hom lof en dank verskuldig. Hy verdien ons blydskap en ons gejubel.
Jubel jy met blydskap elke keer wanneer 'n span 'n briljante drie druk? Of sing jy met blydskap wanneer 'n geliefde verjaar? Nou vra jouself die vraag – reageer jy op dieselfde manier, met blydskap en gejubel, oor God se genade wat jy elke dag beleef?
Laat hierdie baie ou lied ons vandag daaraan herinner om die Here te dank. Die Here is God, ons is sy kinders en elkeen van ons is aan Hom lof, dank en aanbidding verskuldig.
Gebed: Hemelse Vader, vergewe my asseblief dat ek U nie genoeg dank vir alles wat ek van U ontvang nie. Dankie vir al u gawes; vir daaglikse brood, vir lewe, vir die liefde van my familie en vriende en vir geleenthede om u liefde aan ander te bewys. Amen
Luister hier na 'n opname deur die koor van King's College, Cambridge: https://www.youtube.com/watch?v=x0hvizFZf5Q