U koninkryk kom - 22 Mei 2017
Neville Turley
En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” Matteus 24:14
“Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God. Lukas 13:29
Die koninkryk van God het sentraal gestaan in die leringe van Jesus hier op aarde. Dit word dikwels in die Evangelies genoem en feitlik altyd is Jesus aan die woord. Stel jou voor hoe bly die dissipels moes gewees het toe Jesus, wat wonderwerke kon doen, aankondig dat Hy gestuur is om die koninkryk van God te herstel.
Jesus se daaropvolgende leringe en beskrywing van die koninkryk moes egter vir hulle 'n diep raaisel gewees het. Hy het die koninkryk van God vergelyk met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê, met 'n treknet waarmee allerhande soort vis gevang word, met 'n mostertsaadjie en met 'n baie waardevolle pêrel.
Kinders is welkom, maar dit is moeilik vir die rykes om die koninkryk van God binne te gaan. Tollenaars en prostitute wat hulle sondes bely en glo, sal die koninkryk ingaan, terwyl dit nie waar is van hoëpriesters, fariseërs en die leiers van die volk wat nie glo nie. Nie almal wat Hom aanspreek as Here, Here, sal kan ingaan nie, maar slegs diegene wat die wil van sy Vader doen.
Die Jode het lank reeds gewag op die koms van die Messias om die Romeinse ryk omver te gooi en in Jerusalem te heers. Alhoewel Jesus dit vir hulle duidelik gestel het, het sy dissipels nie verstaan dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.
Dit het die kruis, die opstanding en die gawe van die Heilige Gees geneem voordat sy dissipels dit kon verstaan. Toe hulle dit eers begryp het, het dit hulle verander van 'n groepie bang mans tot onverskrokke volgelinge van Jesus, wat hulle biddend aan die wil van God onderwerp het en Hom tot die einde van hulle dae gedien het.
Wanneer ons bid "laat u koninkryk kom", sê ons dat ons ook gewillig is om dieselfde te doen.
Gebed: Hemelse Vader, ons verlang na die dag dat hierdie wêreld volkome herstel is met U as Regeerder. Gee dat die Heilige Gees ons sal inspireer om van U te getuig sodat die einde kan kom. In Jesus se Naam bid ons dit. Amen