Laat u Naam geheilig word - 19 Mei 2017
Neville Turley
Hy het vryheid vir sy volk bewerk, sy verbond vir altyd ingestel. Sy Naam is heilig, dit wek ontsag. Psalm 111:9
Ons Here is 'n uitstekende onderwyser. Hy leer ons in die Ons Vader-gebed dat God ons Vader in die hemel is, en dan net daarna, net vir ingeval ons te familiêr raak, beveel Hy ons om die Naam van God te heilig.
In ons vers vir vandag lees ons dat God se Naam reeds heilig is en dat dit ontsag wek. Ons kan nie bid dat God sy Naam nog meer heilig moet maak as wat dit reeds is nie. Ons kan wel bid dat die Heilige Gees ons die krag sal gee om aan God die heiligheid en respek wat Hom toekom, te bewys.
Aangesien alle goeie dinge van God kom, is dit redelik om te aanvaar dat God self bewus is van sy heilige Naam. In die eerste boek van Samuel lees ons: "Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak." (1 Samuel 12:22)
Ons het Syne geword toe ons Jesus aangeneem het. "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word." (Johannes 1:12)
As kinders van God dra ons die Naam Christen. Dit is 'n naam om ons in te verbly, maar dit kom ook met verantwoordelikhede. Ons maak die Naam van God heilig deur ons woorde en dade. Dit is 'n verskriklike groot uitdaging. Hoe kan ons dit regkry? Die antwoord is in die Bybel. "Loof die Here. Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het. Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade. Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. (1 Kronieke 16:8-11)
Ons laat die Naam van God geheilig word wanneer ons regverdig leef, Hom met blydskap dien en ander aanmoedig om dit ook te doen.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons sal toerus met die gawes wat ons benodig om u Naam te verheerlik deur Jesus Christus, ons Here. Amen