Wandel met God: omkyk bring verwoesting. Lot se vrou - 6 Junie 2017
Louise Gevers
“Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie. Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het! Lukas 17:31-32
Dit is wonderlik dat Jesus oor Lot se vrou praat, maar sy woorde oor haar is 'n waarskuwing aan diegene wat na hom luister. In die volgende vers sê Hy: "Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou." Hierdie stelling mag dalk vir ons 'n raaisel bly todat 'n mens in die konteks van Lot se vrou daarna kyk. Sy het omgekyk en haar lewe verloor.
In die Genesis weergawe word Lot se vrou vir die eerste keer genoem toe die engele by Lot aangedring het om die verdoemde stad met haar en hulle twee dogters te verlaat. Ongelooflik, maar sy is klaarblyklik nie haastig nie, ten spyte van die engele se opdrag en die feit dat sy gehoor het hoe Lot hulle dogters aanbied in 'n poging om die onregeerbare bende tot bedaring te bring. Sy het ook gesien hoe die engele Lot die huis in trek, die bende mans laat blind word en sy het geweet dat Lot hulle toekomstige skoonseuns gaan waarsku het om saam met hulle te ontsnap.
En tog, ten spyte van al hierdie getuienis en die duidelike waarskuwing van God se naderende oordeel, ignoreer sy tog die engele se waarskuwing “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.” (Genesis 19:17) Lot se vrou het egter omgekyk na die verwoesting van die stad en sy het in 'n soutpilaar verander. Sy is baie duidelik 'n geleentheid aangebied om aan die verwoesting van die stad te ontkom – die keuse was hare – maar, soos Lot, was dit vir haar moeilik om haar gemak, al die luukshede en status agter te laat. Alhoewel sy as 'n Sodomiet, miskien nie heeltemal Lot se geloof aanvaar het nie, het God se genade, oor sy verhouding met Abraham, ook vir haar, Lot en hulle gesin ingesluit.
God doen altyd wat Hy sê Hy sal doen, maar in hierdie geval sien ons hoe sy oordeel deur sy genade getemper word. Die Here bewys ongelooflike geduld deur wel minder as tien regverdige mense uit die verdorwe stad te red, maar uiteindelik red Hy nie die een wat nie gered wil word nie. Dit bring ons terug by Jesus se woorde: "Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!"
Gebed: Hemelse Vader, heilig my sodat ek nie myself sal mislei nie, maar duidelik my sondige aard en my behoefte aan U sal kan sien. Help my om nie vas te klou aan die verlede nie, of te verlang na dinge wat skadelik vir my is nie, of so vasgeheg te wees aan die gemak van hierdie wêreld dat ek selfs in tye van nood nie bewus is van u teenwoordigheid nie. Help my om altyd bewus te bly van u liefde en genade, en help my om U te dien. In die Naam van Jesus. Amen