Wandel met God in dankbaarheid: Josafat - 7 Junie 2017
Louise Gevers
Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. … Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” 2 Kronieke 20:18,21
Wat 'n aangrypende prentjie: 'n regeerder en sy onderdane wat op die vooraand van 'n geveg in volkome oorgawe voor die Here buig, en wat 'n ongelooflike geveg was dit nie. Hulle gedrag was ongetwyfeld te verstane aangesien hulle teen 'n baie gevaarlike leërmag moes gaan veg, maar net geloof in 'n grote God kon 'n koning oorhaal tot so 'n ongelooflike gevegsplan. Stel jou voor, enige leërmag gaan na die slagveld met slegs 'n koor wat die Halleluja-koor sing om hulle te lei! Die Bybel sê oor Josafat: "Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil …" (2 Kronieke 17:6)en daarom het hy al die Here se opdragte geglo en dit gehoorsaam.
Josafat het die Here onbevrees gevolg, en vandat hy aan bewind gekom het, het hy probeer om die land te hervorm. Hy het 'n nasionale program vir godsdiensonderrig begin om mense opnuut die wette van die Here te leer en hy het stappe geneem om afgodsbeelde te verwyder. Hy het ook 'n uitgebreide regstelsel ontwikkel en regters aangestel wat hy opgelei het en met die volgende woorde aangemoedig het: "Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.” (2 Kronieke 19:7)
Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle in hierdie wêreld dit moeilik sal hê, maar dat hulle moet moed hou want Hy het die wêreld klaar oorwin. (Johannes 16:33)Josafat het dit ook beleef dat om 'n toegewyde gelowige te wees, nie 'n lewe sonder probleme beteken nie, en tog het hy die Here volkome vertrou. Toe hy dus die nuus kry dat 'n groot gewapende mag uit Edom opgeruk het, was sy onmiddellike reaksie 'n oproep vir almal in Juda om te vas en tot die Here te bid dat Hy hulle teen die vyand sal beskerm.
Daardeur is die Here verheerlik.
As 'n nasie het hulle hulle voor die Here verneder en hulle afhanklikheid van Hom bely. Hulle het op die almag van God gefokus en nie op hulle eie swakhede nie. Hulle het hulle geloof in Hom bewys deur sy opdragte te gehoorsaam. Dit was al wat nodig was.
Terwyl hulle Hom geprys het want "aan sy liefde is daar geen einde nie”, het die Here die oorlog vir hulle geveg. Hy het dit so bewerkstellig dat die vyand op die ou end mekaar aangeval en doodgemaak het. Toe die Judeërs by die slagveld opdaag was daar net lyke en hulle kon net die buit bymekaar maak.
Die Here het so kragtig gewerk dat Josafat vir die res van sy lewe vrede ins sy koninkryk gehad het want äl die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. (2 Kronieke 20:29)
Gebed: Hemelse Vader, ons verlang na vrede in ons land en in die wêreld. Skenk aan ons nederige leiers wat U eer en gehoorsaam. Leiers wat weet dat U regverdig is en die geveg vir u kinders sal veg. Dankie dat alles by U moontlik is. Amen