Wandel met God – Geduld: Job - 9 Junie 2017
Louise Gevers
Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming. Jakobus 5:11
Die Bybel vertel ons van die verhouding wat God met sy skepping het asook van die wonderlike verhouding wat baie individue uit verskillende groepe van die samelewing met Hom gehad het. Elkeen was, net soos ek en jy, geskape vir 'n spesifieke doel, en die Bybel vertel ons van elke moontlike lewensituasie sonder om die mense waarvan ons lees, te verheerlik. Dit gee ons insig hoe om soortgelyke situasies te hanteer wanneer ons dit beleef.
Wanneer ons moeilike tye beleef en moedeloos en hulpesloos voel, is dit belangrik om te onthou dat "wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig." (Spreuke 9:10) Soms bevind ons ons in moeilike omstandighede wat nie te wyte is aan iets wat ons gedoen het nie, en die mense wat ons behoort te help, span saam teen ons. Dan is dit nodig om te kyk na ons verhouding met God en ons pyn voor Hom uit te stort. God is onveranderd en bied aan ons die moontlikheid om in elke situasie naby Hom te bly.
Job was bekend as "… vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy." (Job 1:1) en tog het hy verskriklik gely. Ten spyte van sy groot rykdom en die feit dat hy geseën was met baie kinders en onder die mense in die ooste hy die belangrikste man was. (Job 1:3) het hy hom in 'n ellendige situasie bevind. In 'n oomblik het hy alles verloor: sy diensknegte, sy diere en sy tien kinders. Alhoewel hy oorkom was met hartseer, het sy geloof in die Here hom gedra en het hy gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21) Hy het ook gely met pynlike swere van sy kop tot sy tone en 'n gevoellose vrou wat vir hom gesê het: "Vervloek God en sterf!" (Job 2:9)
Dit is moeilik om dit te verstaan. Ons kan verstaan as iemand die verkeerde keuses maak, dinge verkeerd kan loop, maar die is moeilik om te verstaan hoekom 'n "goeie"persoon moet swaarkry. God leer ons, dat Hy by ons is en dat deur lyding Hy ons vorm. Niemand ontsnap hieraan nie want "Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen." (Matteus 5:45) Dit is nie wat met ons gebeur nie, maar hoe ons dit hanteer wat tel. Ons kan na hartseer, siekte of onreg sterker anderkant uitkom en met 'n dieper begrip van God en onsself. Indien ons ons swak keuses bely het, sal ons ligter en vryer voel.
God toets ons karakter soos Hy Job s'n getoets het. Kan ons te midde van ons beproewing God vertrou? "As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10)
In sy lyding het Job God volkome vertrou en God het hom volkome herstel. Sy ondervinding is 'n bewys dat dit beter is om God te ken as om antwoorde te soek.
Gebed: Hemelse Vader, U alleen beskik oor al die wysheid en my begrip is maar baie beperk. Help my om u almag te erken in amenalles wat ek doen en my volkome aan U oor te gee want U het my vir ewig en elke situasie lief. Amen