Wandel met God met berou: Josia - 12 Junie 2016
Louise Gevers
Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie. Sagaria 9:9
Die leier van 'n land het 'n ontsaglike groot verantwoordelikheid want ander se welstand en ontwikkeling is afhanlik van hom. Daarom verwag 'n mens dat so 'n leier 'n persoon van integriteit met 'n diepe toewyding aan sy landsgenote sal wees. So het verskillende leiers deur die eeue 'n groot impak op hulle verskillende lande gehad, en vandag beleef ons die impak van ons huidige leiers in ons eie land.
"Regverdig", "oorwinnaar" en "nederig" is woorde wat die profeet Sagaria gebruik om die koning te beskryf wat ongeveer vyfhonderd jaar later Jerusalem op 'n donkie sou binne ry. Hierdie koning was niemand anders as Jesus, die Messias nie. Jesus verpersoonlik die waardes van 'n ware leier en stel dus die standaarde vir leiers van alle tye.
Israel het gebuk gegaan onder die gebrekkige leierskap van baie konings wat God nie geëer het nie en wat die bose praktyk van afgodsaanbidding gevolg het wat die Here se oordeel op hulle almal tot gevolg gehad het. Vandag fokus ons op 'n bewonderenswaardige koning wat probeer het om die bose praktyke wat sy vader en oupa beoefen het, uit die land te verwyder, en deur dit te doen het hy guns in die oë van God gevind.
Josia het die troon op die ouderdom van agt jaar bestyg; "Josia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie."(2 Konings 22:2) Hy het hom daarop toegespits om goed te regeer en om sy verantwoordelikhede uit te voer, maar toe Gilkija, die hoëpriester vir hom uit die wetboek wat hulle in die tempel gevind het voorlees, was hy diep getref deur die heiligheid van God en het hy besef dat hy en sy mense berou oor hulle sondes moet hê en dit moet bely.
Die profetes Gulda, het bevestig dat die Here onheil oor hulle sou bring omdat hulle vals gode aanbid het, maar sy het toe ook openbaar dat die Here besluit het om eerder vrede te gee: "Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.” (2 Konings 22:19-20)
Josia het in God geglo. Toe hy hierdie waarheid wat sy lewe verander het, gehoor het, het hy ontslae geraak van alles wat hy as teen God beskou het. "Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei." (2 Konings 23:24) Deur dit te doen is die Woord van God opnuut ontdek, en soos sy oupagrootjie, Hiskia, het hy gehoorsaamheid aan die die wet van die Here herstel en almal is daardeur beloon: Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie. (2 Konings 23:25)
Gebed: Hemelse Vader, ek weet dat ons almal gelyk is voor U en dat ek nie oor mag hoef te beskik voordat ek u stem in my lewe hoor nie. Help my om nederig te wees en my sondes te bely en nie meer te sondig nie. Help ons leiers om dieselfde te doen en bewys u genade aan ons nasie. In Jesus se Naam. Amen