Wandel met God as 'n dienskeng: Petrus - 21 Junie 2017
Louise Gevers
"Van Simon Petrus, 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!" 2 Petrus 1:1
Gister het ons op Samuel gefokus, van kleins af 'n gehoorsame dienaar van God, maar vandag blaai ons na die Nuwe Testament om op Petrus te fokus, iemand wat homself as 'n dienaar van die Here beskryf en wat reeds 'n volwassene was toe hy deur Jesus geroep is.
Petrus se hartelike groet kom uit die blye hart van 'n man wat Jesus persoonlik geken het en wat al die seëninge wat hy sy lesers toebid, self ervaar het. Hy is iemand wie se lewe en prioriteite heeltemal verander het, toe Jesus langs die See van Galilea gesê het: "Kom hier! Kom saam met My," (Matteus 4:19) Petrus was 'n gewone visserman en het die rots waarop Jesus sy kerk sou bou, geword.
Baie mense hou van Petrus want sy gedrag is wat hulle dikwels in hulleself sien en dus identifiseer hulle onmiddellik met hom. Petrus luister dikwels nie behoorlik nie en dink dan dat hy nie verstaan wat Jesus sê nie. Wanneer Jesus in eenvoudige taal na die Fariseërs as blinde leiers verwys, verstaan baie mense hoekom dit vir Petrus nodig was om vir Jesus te sê: "Verduidelik tog vir ons die beeldspraak” (Matteus 15:13-15) om die antwoord te kry.
Soms verras Petrus ons almal egter met 'n ‘Aha!’-oomblik en toon ongelooflike geestelike insig. Soos byvoorbeeld toe Jesus hom gevra het wie hy dink Hy [Jesus] is: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16) Jesus het sy eerlikheid waardeer en het geweet dat God hierdie waarheid aan Petrus openbaar het. Jesus antwoord "En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (Matteus 16:19) Ons identifiseer met hierdie oomblik en is bly oor dit wat God in die lewe van 'n feilbare mens kan doen.
Petrus het dikwels foute gemaak, tydens Jesus se verhoor het hy Hom selfs drie keer verraai, maar hy het altyd sy verkeerde dade erken en opreg bely en het dan onmiddellik voortgegaan om Jesus met sy hele hart te dien. Deur sy nederigheid het hy geestelik volwasse en 'n toegewyde dienaar geword. Hy was 'n leier vir die dissipels, deur die krag van die Heilige Gees het hy gepreek en onvermoeid die evangelie verkondig. Hy het deur sy briewe aan die vroeë kerk vir hulle omgegee, hulle bemoedig en hulle deeglik onderrig.
Jesus roep elkeen van ons om Hom te volg. Wanneer ons mismoedig voel, laat Petrus se lewe ons bemoedig en laat ons vertrou dat, soos in die geval van Petrus, "… God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." (Filippense 1:6)
Gebed: Hemelse Vader, help my om soos Petrus volwasse te word in my begrip van en verhouding met U. Gee dat ek gevorm sal word deur u Gees en u Woord en dat my aksies sal ooreenstem met die geloof wat U in my laat groei, sodat ek U getroue dienaar kan wees. Amen