Wandel met God as 'n dienskneg - 20 Junie 2017
Louise Gevers
Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra.Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. 1 Samuel 2:18,19
Hierdie beskrywing van die jong Samuel wat in die tempel diens doen, is baie spesiaal, dit raak 'n mens baie diep. Miskien het dit te make met die feit dat ons weet hoe Hanna na 'n kind verlang het en hoe sy vir een gebid het. 'n Mens kan net dink met hoeveel liefde en trots sy elke jaar daardie manteltjie gemaak het, maar miskien het dit ook gegaan om die grootsheid van die rol waarvoor Eli hom opgelei het terwyl "die seun Samuel die Here gedien" het. (1 Samuel 3:1)
Jong kinders kan hulle dikwels volkome inleef in 'n belangrike taak. Miskien het jy spesiale herinneringe aan jou kinders in pa se weermagstewels, of Ma se hoë hakke besig om iets "reg te maak" of sop te roer so versigtig as wat enige volwassene dit sal doen. Samuel wat opgegroei het sonder enigiets om sy aandag af te trek, en wat sy geboorte te danke gehad het aan Hanna se vurige gebede: "het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind." (1 Samuel 2:26)
Die Bybel sê dat "die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie" (1 Samuel 3:1), maar een nag het Samuel duidelik gehoor hoe die Here hom roep. Die Here het aan hom verskyn en hom vertel dat Hy kwaad is vir Eli se familie en van sy oordeel wat Hy binnekort oor hulle gaan voltrek. Wat 'n moeilike taak was dit nie vir Samuel om vir Eli te gaan vertel van die Here se aankondiging nie, maar dit het ongetwyfeld sy toewyding aan die Here bewys. Van toe af het hy regoor Israel bekend geraak as 'n dienskneg van God en soos die Here Hom deur sy woord aan Samuel openbaar het, het hy meer en meer oor Hom geleer. "Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie." (1 Samuel 3:19)
Die dood van Eli en sy seuns, wat so min respek vir God gehad het dat hulle selfs die verbondsark uit die allerheiligste plek verwyder het om na die slagveld te neem, het die einde van die donker, chaotiese tyd van die Rigters beteken en was die begin van Samuel se bediening onder die Israeliete en wat meegebring het dat mense God opnuut aanbid het. Samuel het duidelike riglyne gegee toe die Israeliete hulle sondes bely en die aangesig van God gesoek het. Hy het ook by God vir hulle ingetree en hulle met integriteit gelei. "As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.” (1 Samuel 7:3)
Samuel se lewe is 'n bewys van die belangrikheid om vir 'n spesiale doel vir God afgesonder te word. Sy noue verbintenis met die Here van kleins af het hom gevorm om priester, regter, profeet en raadgewer vir die mense te word. God het hom ook uitverkies om die eerste twee konings van Israel, Saul en Dawid, te salf. Regdeur sy lewe het hy onwrikbaar op God gefokus en Hom getrou en gehoorsaam in alles gedien.
Gebed: Liewe Vader, help my om ook in my lewe, soos Samuel, op U te fokus en gee dat ek u getroue en gehoorsame dienskeneg sal wees en in alles wat ek doen u Naam sal verheerlik. Amen