Wandel met God met krag: Elia - 29 Junie 2017
Louise Gevers
Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. Jakobus 17-18
Droogte is iets wat almal se aandag trek. Dit gebeur stadig en genadeloos en beïnvloed almal op dieselfde manier, water word skaarser en die lug is wolkloos. Net soos water noodsaaklik is vir ons fisiese bestaan, is die Woord van God lewensbelangrik vir ons geestelike lewe. Indien ons oor 'n tydperk sonder onderbreking van enige van die twee ontneem word, sal dit verseker tot die dood lei, fisies of geestelik. Israel moes so 'n toestand in die tyd van Elia die hoof bied. Die noordelike koninkryk was as gevolg van rebelse konings wat afgode aanbid het, geestelik arm. Dit het tot gevolg gehad dat die mense hulle harte teen die Wet van God verhard het.
Noem 'n mens Elia, dink jy onmiddellik aan die krag van God wat so duidelik na vore kom in die wonderlike dade wat hy gedoen het. (1 Konings 17:14,22; 1 Konings 18:48) Hy was geesdriftig oor sy sending, hy kon die waarheid duidelik sien en het dapper namens die Here gepraat. Hy het Agab, die koning gekonfronteer en die mense oortuigend deur sy aksies gewaarsku. Dit is te verstane dat hy beskou word as die beroemdste en mees dramatiese van al die profete wat die Here gestuur het om sy woord aan Israel te bring.
Elia het gesê: "daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie" (1 Konings 17:1) om aan die mense hulle geestelike droogte te illustreer en om hulle te help om die erns van hulle geestelike situasie te besef. Dit het vir drie en 'n half jaar nie gereën nie. Hy het toe 'n kompetisie gehou waar die profete van Baȁl tot Baȁl moes bid om vuur te stuur, wat hy natuurlik nie kon doen nie, en toe het Elia tot God gebid om vuur te stuur. (1 Konings 18:16-41) Stel jou voor die verwagting onder die mense. "Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek." (1 Konings 18:36-38) Die hele volk het toe onmiddellik "op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!" (1 Konings 18:39)
Die dood van die profete van Baȁl en die feit dat die volk bely het dat die Here God is, het daartoe gelei dat die droogte gebreek is. Die openbare mislukking van Baȁl om die offer aan die brand te steek teenoor die wonderlike vertoon van God se krag toe Hy vuur uit die hemel gestuur het om die papnat altaar en alles op en rondom dit te verbrand, het die mense die waarheid deur Elia se gehoorsaamheid laat sien.
Gebed: Here, U is almagtig en U doen vandag steeds wonderlike dade. Help my om te verstaan dat as ek van enigiets 'n afgod maak wat ek bo U stel, ek myself geestelik skade berokken. Help my om die waarheid deur u Woord te sien en dankie vir u genade. Amen