Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wandel met God as 'n persoon wat verander is: Paulus - 30 Junie 2017

Louise Gevers

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”  2 Korintiërs 17:7-9

Niemand is regverdig nie, niemand is volmaak nie al probeer ons hoe hard. Ons is almal swak en ons misluk want ons deel in die menslike toestand wat deur sonde veroorsaak word; selfs eenvoudige dinge is vir ons moeilik om uit eie krag te doen. Ons benodig God se genade en sy krag in ons lewens. Miskien was dit vir jou 'n verrassing om gister te lees dat die belangrike Elia "was 'n mens net soos ons." (Jakobus 5:17) Deur hierdie stelling verduidelik Jakobus egter dat elke mens die potensiaal het vir God om wonderlike dinge te doen, want Hy werk deur gewone mense.

Jesus het aan sy dissipels vertel dat hy nog groter dinge as wat Hy reeds gedoen het, gaan doen! As volgelinge van Christus voel ons soms so neerslagtig want ons getuienis is so swak, maar selfs Elia was soms terneergedruk al het God so kragtig deur hom gewerk. Miskien wil God nie noodwendig iemand uit die dood opwek of 'n droogte begin soos in die geval van Elia nie, maar deur 'n gehoorsame hart sal Hy doen wat die tyd en omstandighede regverdig.

Hiervan is die apostel Paulus 'n uitstekende voorbeeld. Op pad na Damaskus is Saulus, die voormalige Fariseër, deur sy ontmoeting met Jesus heeltemal verander. (Handelinge 9:3). Paulus het voor en na sy bekering toegewyd vir God gewerk, maar eers na sy ontmoeting met Jesus het dit werklike betekenis gekry. Deur God se genade het die dramatiese verspreiding van die Christendom plaasgevind deur die man wie se plan dit was om dit te vernietig!

Voorheen was Paulus 'n moordenaar wat mislei was, maar daarna was hy 'n inspirerende boodskapper wat die weergalose geskenk van vergifnis en ewige lewe deur Jesus Christus aan die wêreld verkondig het. Paulus het onvermoeid gewerk om die evangelie te verkondig. Hy het dikwels swaargekry, maar sy leuse was altyd: "want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins." (Filippense 1:21)

En tog leer ons uit vandag se teks dat Paulus steeds 'n probleem gehad het wat hy ten spyte van gebed nie kon oorkom nie. Kan jy hiermee in jou eie lewe vereenselwig?

Die Here het Paulus gehelp om te verstaan dat hierdie "doring in die vlees" sy voete op die grond gehou het en hom gehelp het om nie hoogmoedig te word nie; dit het hom gehelp om die Here ten volle te vertrou in stede van om op sy eie krag staat te maak.

God se genade is ook vir ons genoeg, maak nie saak wat ons "doring" is nie. Deur sy groot plan kan ons vrede hê en in alle omstandighede ons in ons swakheid verbly. Ons moet hierdie goeie nuus met ander deel sodat almal sy genade kan ken. (Matteus 28:19-20)

Gebed: Vader, U is wonderlik! Dankie vir u genade wat ook my swakheid verander en my in alle omstandighede seën. Help my solank ek leef om hierdie goeie nuus met ander te deel. Amen

Previous article: Kosbare Woorde wat ver kom - 3 Julie 2017 Prev Next article: Wandel met God met krag: Elia - 29 Junie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.