Vers n dag - 4 Mei 2011
Maak soos ek maak
Dirk Taljaard
Skriflesing
1Tessalonisense 1:6 en 7
6 En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.
7 So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.
Woorde wek, maar voorbeelde strek. Dis een van die bekende uitdrukkings in Afrikaans. Dis die toets vir goeie leierskap, maar ook vir volgelingskap. Dis wat ouerskap so 'n groot uitdaging maak. Dis wat verwag word van politieke leiers en almal in verkose gesagsposisies. Kortom: dis wat verwag kan word van enigiemand met integriteit.
Leiers kan só behep raak met hulle posisies en die status daaraan verbonde, dat hulle vergeet van die beeld wat hulle uitstraal. En as hulle in hulle eie ou klein wêreldjie só selfvoldaan raak, gee hulle nie meer 'n snars om wat dit aan ander doen nie - hoe ander daardeur mislei en verwar word nie.
Ouers sê - baie maal woordeloos: Doen soos ek sê, nie soos ek doen nie! En kinders wat eintlik na-apers en na-praters is, ignoreer die woorde en volg die dade. Hulle leer aan wat voor-geleef word.
Wie modeleer ons in ons lewens? Anders gestel: Wie se voorbeeld volg ons? Leef ons só naby aan die Here, volg ons só getrou in sy voetspore, dat ander aangespoor word om dieselfde te doen. Nie om ons na te volg nie, maar die Here!
Elkeen wat in 'n leiersposisie staan: doen dit vandag só dat iets van Jesus se gesindheid deurskemer.
Elkeen wat 'n werknemer of ondergeskikte is: tree teenoor jou meerderes op met die ingesteldheid waarmee Jesus sy bediening uitgevoer het.
Ouers en kinders: wees vandag vir mekaar voorbeelde in woord en daad!
Gebed:
Here, maak my ‘n toonbeeld van u genade. Gee dat mense by my verbykyk, en U sal raaksien deur my woorde en optrede.