Vers n dag - 5 Mei 2011
Geen bymotiewe
Dirk Taljaard
Skriflesing
1 Tessalonisense 2:4 en 5
4 Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.
5 Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie.
Honesty, is such a lonely word, everyone is so untrue.. klink die woorde van die liedjie in my kop. Dis aan die orde van die dag: Geheime agendas, noem mense dit. Verskuilde motiewe, doodgewoon oneerlikheid, noem ander dit. Gewoonlik om persoonlike voordeel daaruit te trek, ten koste van ander.
Natuurlik is party mense net meer kwesbaar en vatbaar vir beïnvloeding. Maar eintlik het sommige die kuns vervolmaak om ander te kan manipuleer, te kul, 'n rat voor die oë te draai...
Om iemand se guns te wen, sal mens (aanvanklik) agteroor buig om aan hulle wense te voldoen en hulle steun en lojaliteit te werf. 'n Gewaarborgde wenresep hiervoor is die gebruik van vleitaal: om te sê wat mense graag (oor hulleself) wil hoor. Solank mense se ego gestreel word, is hulle vatbaar vir enigiets. Selfs om die prooi te word van geldgierige, hebsugtige mense. Dit gebeur op byna elke lewensterrein - selfs dié van die kerk! Dié plek waar mens dit die minste sou verwag.
En dis juis 'n rooi lig wat flikker om ons as gelowiges te waarsku: moenie ter wille van enigiets die evangelie afwater nie. Dan is jy nie eerlik teenoor jouself nie, en ook nie getrou aan die boodskap van die Woord nie. Jy kan sommige mense vir 'n tyd lank fop, maar jy kan nie alle mense vir altyd kul nie.
Jou 'ja' moet ook vandag 'ja' wees en jou 'nee' 'nee'. Anders sien mense dwarsdeur jou skemas en ly die evangelie skade.
Gebed:
Here, ek weet nie aldag wie ek kan vertrou nie. Help my om vandag só te lewe dat ek bo verdenking staan en dat ander u Woord uit my mond sal hoor.