Vers n dag - 6 Mei 2011
Moederliefde
Dirk Taljaard
Skriflesing
1 Tessalonisense 2:7 en 8
7 .... Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel.
8 So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.
Vroeër jare was dit 'n gewilde muurbehangesel wat in die woonkamer gehang het: Wat is 'n huis sonder 'n moeder? Vandag sal mens amper wil vra: Wat is 'n moeder sonder 'n huis? En beide is ewe erg!
Want 'n ma speel so 'n onmisbare rol in 'n huis en in die lewe van haar gesin. Soveel uitdrukkings in Afrikaans getuig daarvan: Ons moedertaal; wat ons aan moedersknie geleer het; ons het dit met moedersmelk ingekry...
Tradisioneel is die ma in die huis die sagte persoon, dié een met die begrip, die tyd, die deernis om te luister, om in die bresse te tree, om die trane af te vee, om die pleisters te plak en 'n seer beter te soen. Iemand wat alles op die altaar sal plaas vir haar gesin. Wat selfs haar lewe op die spel sal plaas as dit tot voordeel van haar mense is!
En dis die metafoor wat hier gebruik word. Dit wys met watter gesindheid ons ons getuienis moet uitleef teenoor elkeen met wie ons te doene kry in ons handel en wandel: Om God se liefde na die wêreld te kaats.
Die harde, ongenaakbare wêreld waarin ons leef, het 'n enorme behoefte aan liefde en deernis, aan empatie en 'n gewillige oor, aan 'n helpende hand en 'n simpatieke hart. Kwaliteite wat nie aangebore is nie, maar deur die Heilige Gees bewerk word, en groei in 'n intieme verhouding met die Here. Kwaliteite wat nie geveins kan word nie, maar wat net uit 'n opregte hart kan voortkom.
Deur jou ma-kant vir almal te wys vandag, kan dit 'n reuse verskil maak...!
(Terloops: Dink Sondag aan die invloed wat jou ma op jou uit(ge)oefen (het) - dis Moedersdag.)
Gebed:
Here, gee my vandag ‘n sagtheid, ‘n deernis vir ander. Vir enigiemand wat u nabyheid nodig gaan hê. Dat ek daar kan wees.