Hoe kies jy?

Dirk Taljaard

Skriflesing:

1 Tessalonisense 4:3

3 Dis die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. 4 elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word...nie.

Daar is redelike (opvallende) verskille tussen mens en dier. Nie net is daar fisiese verskille nie, maar ook op ander vlakke:

• Die mens het 'n sedelike bewussyn wat help om die verskil tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Die mens het 'n verantwoordelikheidsin en kan deur rasionele keuses die regte besluite neem. Geleerdes verskil van mekaar oor die vraag of dit 'n aangebore kwaliteit is, en of dit aangeleerde gedrag is.

• Daarteenoor is diere hoofsaaklik aangewese op instink - 'n aangebore kwaliteit wat help met oorlewing. Dis wat hom dryf en wat geen genade gee of vra nie. Survival of the fittest, noem die Engelse dit.

As die Bybel praat oor 'n gelowige se gedrag teenoor ander en oor verhoudings wat aangegaan en gebou moet word, veronderstel dit 'n paar dinge:

• 'n Mens kan kies wat jy wil doen.

• In 'n lewende verhouding met Jesus Christus word jou keuses ondergeskik gestel aan God s'n.

• Hierdie keuses het nie eie voordeel of die bevrediging van eie behoeftes op die oog nie.

• Dit mag nooit 'n ander skade berokken nie, maar stel hulle belange eerste.

Paulus gee hier praktiese raad. Maar dit raak ook een van die moeilikste sake vandag. Mense wil nie voorgeskryf word oor lewenstyl en -gewoontes nie. Mense wil self besluit of selfs die algemene gevoel of siening as maatstaf neem. Daarom kry onsedelikheid allerlei name wat die wese daarvan wil verbloem of versag.

Maar onsedelikheid beteken doodgewoon dat mense hulle verantwoordeliksin verontagsaam en dat hulle gedryf word deur eie (seksuele) hartstogte en begeertes.

Dis waarteen die Bybel hier waarsku: gelowiges word nie deur instink gedryf nie, want dis die maklikste pad met die minste weerstand. God wil hê dat ons heilig en eerbaar in ons verhoudings sal lewe. Dat ander - veral in ons persoonlike verhoudings - se behoeftes voorrang sal geniet.

Gebed:

Hemelse Vader, ons weet u wil vir ons lewens is goed en reg. Vergewe ons dat ons onsself baie maal deur ons eie begeertes laat verlei.