'n Dief in die nag.

Dirk Taljaard

Skriflesing:

1 Tessalonisense 5:2

2 Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag...

Elke mens het 'n verlede, 'n hede en 'n toekoms. Ons het elkeen 'n geboortedatum wat êrens in die verlede lê en ons kan deur ons argiewe blaai om te sien hoe en waar ons opgegroei en ontwikkel het. Wanneer iemand hierdie stukkie lees, gebeur dit in die hede - hier en nou. Dis wat ons nou geniet en moet waardeer. Elke geleentheid moet nou aangegryp word!

Maar ons glo dat ons ook 'n toekoms het: hier op moederaarde, maar ook in die lewe hierna. In die christelike tradisie bely ons gereeld dat ons glo aan 'n ewige lewe. Hierdie belydenis gee sin aan baie (onverklaarbare) dinge wat daagliks met ons gebeur en dien as troos wanneer die lewe te veel raak.

Die oorgang na die ewige lewe vind plaas wanneer ons ons koppe vir oulaas hier neerlê. Wanneer dit gaan gebeur, weet niemand nie, maar dat dit gaan gebeur, staan soos 'n paal bo water.

Paulus praat hieroor: dit kom soos 'n dief in die nag. Niemand weet wanneer 'n skelm gaan inbreek nie, anders sou ons die boosdoeners ingewag het. Ons in Suid-Afrika behoort die metafoor goed te verstaan, want ons het al gewoond geraak aan inbrake. Daarom bou ons allerhande voorsorgmaatreëls in om nie onkant betrap te word nie: alarmstelsels, veiligheidsheinings en -deure, diefwerings en afgesperde woongebiede.. Ten spyte hiervan, gebeur dit steeds! Al die maatreëls lei net ons aandag af, verlaag ons waaksaamheid en gee soms die valse gevoel van gerustheid.

In ons geestelike lewe probeer ons ook baie dinge om nie te dink oor môre nie. Om te vergeet van die 'dief in die nag'. Om ons aandag af te lei van die realiteit van die onvoorspelbaarheid van die lewe. En tog weet ons dis waar!

Maak vandag seker van jou verhouding met die Here - die enigste waarborg vir 'n sorgvrye hier (nou) en hierna. Mense kan alles van jou wegvat en steel. Maar niks en niemand kan jou uit sy hand ruk nie. Leef vandag voluit vanuit hierdie sekerheid.

Gebed:

Here, help my om vandag my oog op U te hou en nie op verganklike dinge te vertrou nie. Dankie dat ek veilig in u hand is.