Arbeid adel.

Dirk Taljaard

Skriflesing:

1 Tessalonisense 5:12-14

12 Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13 Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. 14 ..wys die leeglêers onder julle tereg...

Baie van ons se lewens draai letterlik en figuurlik om ons beroep. Mans en vrouens spandeer soms meer kwaliteit-tyd by hulle werk, as by hulle huise. En die hartseer is dat die samelewing dit kritiekloos aanvaar asof dit die norm behoort te wees!

Ander beklee poste, maar doen die minimum en ontvang reuse salarisse daarvoor. Ons slaan net ons hande saam hieroor.

Byna 'n kwart van die bevolking sou baie graag wou werk, as hulle maar net die geleentheid sou kry. Hulle het ook honger magies wat gevoed moet word, maar verskeie faktore weerhou hulle van 'n produktiewe bydrae tot die ekonomie en samelewing. Met hulle het ons groot simpatie en verwag van die Staat en privaat sektor om iets hieraan te doen.

Ander mense, weer, is bloot te lui om te werk. Leeglêers, noem ons hulle. Op hulle sien ons neer.

In watter van dié kategorieë sou jy geestelike werkers, soos predikante en pastore, plaas? Hoe praat jy van hulle? Ses dae onsigbaar en die sewende onverstaanbaar? As hulle tuis is, vra jy hoekom hulle nie werk nie, en as hulle nie daar is nie, wonder jy hoekom hulle nie beskikbaar is nie?

Word hulle rêrig waardeer vir wie hulle is en vir dit wat hulle doen? Geniet hulle, in Paulus se woorde, die hoogste agting ter wille van hulle werk met soveel fasette: besoeke, troos, toerusting, prediking, kategese, opheffing, huwelike, begrafnisse, voorbereiding... Baie hiervan word nie aan die groot klok gehang nie en bitter min weet daarvan. Dit word gedoen in stilte, in cognito. Miskien is dit hoekom baie dink dat hulle nie regtig werk nie. Dalk is dit hoekom hulle nie altyd 'n afnaweek of vakansie gegun word nie.

Doen 'n slag moeite om uit te vind wat jou gemeenteleraar daagliks doen. Bid meer vir hom en haar. Maak ook seker dat hulle nie uitbrand nie en dat hulle ook tyd aan hulle eie huisgesinne bestee. Dis ook 'n opdrag aan hulle.

Gebed:

Dankie, Here, vir diegene wat soveel opgeoffer het in die verlede om u koninkryk te bou. Dankie vir elkeen wat voltyds in u diens is en soms onder moeilike omstandighede u werk moet doen. Help my om hulle te waardeer.