Hoe gaan dit?

Dirk Taljaard

Skriflesing:

Psalm 1:1 en 2

1 Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Het jy al agtergekom hoe mense reageer wanneer jy vra: Hoe gaan dit? Die reaksie: Nie te sleg nie, dankie. Dit gebeur werklik min dat iemand sal sê: Dit gaan baie goed, dankie. Het ons al so gewoond geraak het aan al die negatiewe dinge in die lewe, dat ons nie meer positief kan wees nie?

Die Psalmbundel praat gereeld oor goedgaan en gelukkig wees. Hier gaan dit nie oor of jy ryk en gesond is en gesonde verhoudings het nie. Want dis van verbygaande aard. Dit kan in ʼn oomblik van jou weggeneem word.

Vir die Psalmdigter gaan dit in die eerste plek oor die regte verhouding met God wat die verskil in jou lewe bring en jou uitkyk daarop beïnvloed. Draai jou lewe om wat die Here van jou vra, of is jou eie idees oor dinge belangriker? Die woord van die Here, verwys na die wet waarin die wil van die Here duidelik uitgespel word. Dit wil nie beperkend wees nie, maar ʼn veilige ruimte skep waarin mense voluit – en gelukkig - kan leef. Dis praktiese riglyne vir ʼn lewe in ʼn intieme verhouding met die Here wat 24/7 geld.

Die teendeel hiervan is iemand wat hom of haar ophou met mense wat hulle nie aan die Here steur nie: goddeloses, sondaars en ligsinniges. Hulle maak hulle eie reëls wat afhanklik is van die behoefte van die oomblik en daarom is daar geen vastigheid daarin nie. Die 1953-vertaling het die werkwoorde loop, staan en sit gebruik: sonde het ʼn verlammende invloed wat mens gaandeweg tot stilstand dwing. Wat jou geluk steel!

Wanneer iemand vandag na jou welstand verneem, hoop ek dat jy kan sê: Dit gaan baie goed, dankie! So gee jy blyke van wat die Woord vir jou beteken, en kan jy iemand anders se lewe dalk ophelder.

Gebed:

Here, dankie dat my geluk nie afhanklik is van omstandighede nie. Dankie dat ek veilig kan voel binne die ruimte van u wil, en dat dit my ook vandag sal dra.