Wat is die mens?

Dirk Taljaard

Skriflesing:

Psalm 8:3 en 4

3 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 4  wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

Wanneer mens só vasgevang raak in jou alledaagse aktiwiteite en verantwoordelikhede, gebeur dit maklik dat van die ander belangrike dinge by jou verbygaan. Soos die behoeftes van mense:  jou man of vrou, jou kind, iemand in nood... Wanneer mens in die stad bly en werk, kan jy beswaarlik verder kyk as jou kantoor se plafon of die dak van die huis langsaan. Dis dalk een van die redes hoekom ons so geneig is tot swaarmoedigheid. Hoe min kry ons kans om die mooi van die natuur te geniet: iets soos ‘n sonsondergang of –opkoms? Ons sien soms nog die volmaan raak, maar ons let nie eers op na die sterre nie. Dis eers wanneer mens ‘n slag in die natuur kom, dat jy die wonder daarvan indrink.

En watter wonder is dit nie! Hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het, sê die digter. Lê jy op jou rug en bekyk die grote firmament, kry jy die idee van onmeetlikheid van die heelal. Dan besef jy dat alles wat al nagevors is oor sterrestelsels en planete nog maar ‘n aks van alles probeer omskryf. Dis groter as groot!

Dis hoekom mens dan so klein en nietig voel. In dié enorme skepping is ons maar net ‘n klein onderdeeltjie. Soos Jesaja sê: ‘n stoffie op ‘n skaal, ‘n druppeltjie aan ‘n emmer. Wat is ons dan nou eintlik? Wat is die mens dat U aan hom dink?

Dit staan in skrille kontras met die dunk wat ons van onsself het! So asof die heelal om ons draai. Asof alles en almal van ons afhanklik is. Asof die mens die spilpunt is. Mense en moondhede het magtig geword en baie vermag. Maar nie een van hulle kon nog só ‘n pragstuk, soos die skepping, naboots nie.

Die digter erken God as die Skepper van die heelal. Hoe Hy dit gedoen het, weet ons nie rêrig nie, maar dat Hy dit gedoen het, glo ons met ons hele hart. Ons is deel daarvan met 'n besondere taak: om met verantwoordelikheid met God se skepping om te gaan.

Gebed:

Dankie, Here, dat U wat groot is, my as klein mensie raaksien en 'n besondere plek in die skepping gegee het. Maak my weer opgewonde oor u handewerk, asook my eie verantwoordelikheid.