Vers n dag - 5 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 25: GOD SIEN ALLES OP AARDE
Deur Benescke Janse van Rensburg
AGTERGROND: God bly in beheer van elke situasie – selfs al voel dit soms nie so nie. Dít is wat Hugo van Niekerk, ’n sendeling uit Rusland beleef het. Hier is sy getuienis:
Hugo: “Om ’n nuwe lewe in ’n vreemde te begin, verg soms heelwat papierwerk. Dít is wat ek en my vrou, Rika in die laat 1990’s besef het toe ons ons as sendelinge in Rusland gaan vestig het.
“Een Saterdag het ek op die Rooiplein in Moskou vir Rika gesit en wag. Ons eersteling in sy babawaentjie was by my. Aangesien ons met ’n baba in die huis min geslaap het, was ek baie vaak en het ek nie gesien dat my beursie met ’n groot klomp geld, ons paspoorte, motorlisensie en vele ander belangrike dokumente, by die babawaentjie uitgeval het nie.
“Toe ons dit ontdek, het ons oral begin soek – sonder sukses. Ek en Rika het saam gebid en vir God gevra om ons te lei. Hierna het ons ons vermiste dokumente by die polisiekantoor gaan aanmeld. Nadat die polisieman na ons storie geluister het, het sy gesig opgehelder voordat hy ons na ’n kantoor in die gebou begelei het waar die inhoud van my beursie op die tafel uitgesprei gelê het. Die polisieman het verder na ’n maer man in die hoek van die vertrek gewys en gesê dat dit Bagrat uit Armenië is en dat ons hom moet bedank omdat hy die beursie kom ingee het. Ons was in die wolke.
“Later het ons uitgevind dat Bagrat, as dwelmverslaafde uit Armenië gevlug het in die hoop om ’n nuwe lewe in Rusland te begin. Sy verlede het hom egter ingehaal en hy was op pad om ’n einde aan sy lewe te gaan maak toe hy oor die Rooiplein stap en die beursie optel. Hoewel hy die geld wou vat het hy van plan verander toe hy in my beursie die kaartjie sien wat aandui dat ek ’n pastoor is. Hy het dit toe by die polisiekantoor gaan ingee.
“Ons het Bagrat bedank en hom genooi om daardie Sondag ’n kerkdiens saam met ons by te woon. Hy het ingestem en daardie aand kragdadig tot bekering gekom. Bagrat is met die Heilige Gees vervul en volkome van sy dwelmverslawing bevry. Vandag is hy ’n restaurantbestuurder en as jy na hom kyk sal jy nooit kan glo dat hy eens ’n dwelmverslaafde was nie. Alle eer aan God vir hierdie wonderwerk.”
Hugo is reg. God is in staat om enige ramp ten goede te laat meewerk omdat niks op aarde vir Hom verborge is nie. Luister weer na die Psalmdigter se woorde in Psalm 30:13-15: “Die Here kyk uit die hemel, Hy sien al die mense, Hy kyk uit sy woonplek wat almal doen, almal wat op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gemaak het en Hy weet alles wat hulle doen.” (Die Bybel vir Almal-hersiening)
Kan jy jouself indink watter groot glimlag op God se gesig was toe Bagrat daardie dag die beursie op die Rooiplein optel? God het geweet dat Hy op die punt gestaan het om ’n lewe te red. Hy kan dieselfde in ons lewens doen as ons aanhou om Hom daarvoor te vertrou. Gaan jy dit waag? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U soewerein is. Help my om nie moedeloos te word as dit voel of ’n ramp my tref nie omdat ek weet dat U in beheer bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Kyk na ’n foto van Hugo en Rika op die STORIES VAN HOOP groep op die sosiale netwerk, Fbook.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Benescke tree op as spreker by:
-
Dinsdag, 9 Augustus 2011: By die Logos Kerksaal in Bellville. Kontakpersoon: Mari van Eeden by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus